Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man 10 jaar tronk toe vir moord op sy vriendin

’n Woedende man wat sy vriendin met ’n mes doodgesteek het nadat sy R400 van hul huishuur aan ’n daggamengsel bestee en daarvan gerook het, is in die rondgaande hooggeregshof in Virginia tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Sy het ook met ’n ander man gedans terwyl hulle die aand in die Lucy’s-taverne in Odendaalsrus saam met vriende gekuier het.

Toe haar kêrel haar daaroor kapittel, het sy gedreig om hul huurgeld verder te gaan oprook.

Makete Nelson Sempe (27) het só kwaad geword dat hy sy geliefde net daar en dan deur die gesig geklap het.

In sy pleitverduideliking voor regter Abe Mathebula sê hy nadat Ntswaki Lesenyeho (19) se vriende tussenbeide getree het, het hy ’n mes uitgehaal en ’n steekbeweging in haar rigting gemaak om haar af te skrik.

Sy was te naby hom en die mes se lem het die onderkant van haar nek binnegedring.

Hy sê hulle is saam uit die taverne, want hy wou huis toe gaan. Buite het sy inmekaar gesak.

Hy het vergeefs vir ’n ambulans gebel en toe ’n geleentheid met sy vriendin in sy arms na ’n hospitaal gekry. Kort ná hul aankoms is hy meegedeel dat sy dood is, sê hy.

Die paartjie het al vroeër die aand van 31 Julie 2019 buite die taverne woorde gehad nadat hy haar gekry het waar sy dagga gerook het wat sy met ’n fyngemaalde bruin pil gemeng het. Sy het gesê dit kos R400 en sy het van hul huurgeld daarvoor gebruik, sê hy.

Sempe het sowat R1 800 per maand verdien deur diefwering te maak. Daarmee het hy hulle onderhou en vir ’n dak oor hul kop gesorg.

Hy het skuld op ’n aanklag van moord beken en is skaam en berouvol oor wat hy gedoen het. Hy het van die begin af verantwoordelikheid vir sy daad aanvaar, sê hy.

Hy het saam met ’n pleitooreenkoms ook ’n vonnisooreenkoms met die staat gesluit.

Adv. Moipone Moroka het aangekla. Dawie Reyneke het vir Sempe opgetree.

Meer oor:  Virginia  |  Moord  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.