Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man al 8 maande sonder prokureur in hof

Agt maande sedert ’n moordsaak in Polokwane uitgestel is sodat die beskuldigde ’n regsverteenwoordiger kon kry, het niks gebeur nie.

Tanya Wiers is in 2017 in Polokwane vermoor. Foto: Verskaf

Frans Maela (28) wat teregstaan weens die grumoord op Tanya Wiers (44) van Polokwane in Limpopo, het Maandag wéér sonder ’n prokureur in die hooggeregshof verskyn.

Regter Gerrit Muller was hoogs ontstoke oor dié vertraging en sê: “daar is geen verskoning wat goed genoeg is vir hoekom hy nog nie regsverteenwoordiging het nie”.

Wiers is op 7 Februarie 2017 meer as 21 keer met ’n steakmes in haar huis in Eduanpark in Polokwane gesteek. Sy is helder oordag oorval toe sy van ’n supermark af by die huis aangekom het. Haar oë is uitgekerf.

Wiers se man, Rolf, was vroeg Maandagoggend al in die hof saam met die egpaar se oudste twee kinders, Bianca (20) en Rolf jr. (19). Bianca was in matriek toe haar ma vermoor is.

“Dit is uiters frustrerend dat die saak so sloer. Ek kan dit nie glo nie,” sê Rolf.

Rolf jr. het op sy ma se bebloede en halfkaal lyk in die huis afgekom toe hy van die skool af gekom het.

Maela is kort ná die moord op Wiers in hegtenis geneem. Sy verhoor sou in Februarie 2018 begin het, maar die staat het toe gevra dat die saak uitgestel word omdat daar nog vir die uitslag van forensiese toetse gewag is.

Rolf Wiers, Tanya Wiers se man. Foto: Verskaf

Die verhoor sou op 10 September hervat, maar Maela se prokureur van Regshulp SA het toe aan die hof gesê hy het nie genoeg tyd gehad om voor te berei vir die saak nie.

Maandagoggend het ’n ander prokureur van Regshulp SA aan Muller gesê hulle is steeds nie gereed om met die verhoor te begin nie.

Muller het Lawrence Manzini, hoof van Regshulp SA in Polokwane, na die hof ontbied om te verduidelik wat die oponthoud is.

Manzini sê twee weke gelede het daar glo ’n “probleem” ontstaan met die prokureur wat Maela sou verteenwoordig. Hy het nie uitgewei oor wat die probleem is nie.

“Toe het ons tegniese probleme met ons rekenaarstelsel ondervind, maar dit is nou uitgesorteer.”

Muller wou weet waarom Maela dan nie ’n regsverteenwoordiger het nie.

Frans Maela (28) staan tereg weens die moord op Tanya Wiers. Foto: Verskaf

“Dit lyk asof iemand sy uiterse bes probeer dat die saak nie voortgaan nie.”

Manzini sê hulle sal dadelik ’n prokureur vir Maela aanstel en het gevra of die saak tot Woensdag uitgestel kan word.

Meer oor:  Rolf  |  Frans Maela  |  Tanya Wiers  |  Polokwane  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.