Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man appelleer teen vonnisse weens verkragting
Rayno CramerFoto: MLUNGISI LOUW

Net meer as ’n jaar nadat Rayno Cramer (45) van Bloemfontein twee keer lewenslange tronkstraf weens die verkragting van ’n minderjarige meisie opgelê is, het hy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis aangeteken.

In sy appèl, wat in die Vrystaatse hooggeregshof aangehoor sal word, sal Cramer aanvoer dat streeklanddros Jan Greyvenstein met talle aspekte van die getuienis in sy uitspraak en vonnis misgetas en gefouteer het.

Cramer is in April verlede jaar in die Bloemfonteinse streekhof gevonnis omdat hy die klaer, ’n student (26) aan die Universiteit van die Vrystaat, in 2003 en 2004 onsedelik aangerand en verkrag het.

Cramer het die meisie een aand in haar oupa se huis in Bloemfontein drie keer vasgedruk, homself ontbloot en hom teen haar geskuur.

’n Paar maande later het hy haar by vyf verskillende geleenthede, onderskeidelik in ’n vulstasie se toilet, in sy huis en in die meisie se ouerhuis, verkrag.

Hy het tot die einde van sy verhoor skuld ontken.

Wat betref sy skuldigbevinding voer Cramer aan die hof het gefouteer deur te bevind die meisie was geloofwaardig en dat haar getuienis betroubaar is.

Ander getuies het haar weerspreek en sy het haarself ook weerspreek.

Hy sê geen getuienis is aangebied van die sogenaamde seksuele voorbereiding (grooming) nie.

Hy beweer Greyvenstein het verskeie foutiewe feitebevindings gemaak.

Verder het hy mistastings begaan deur te bespiegel en sy eie kennis van ander sake te gebruik in die beoordeling van die feite wat voor hom geplaas is.

Hy het gefouteer deur oormatig simpatiek teenoor die meisie te wees in teenstelling met sy vooroordeel jeens hom, sê Cramer.

Wat betref sy vonnis, voer Cramer aan Greyvenstein het gefouteer deur te bevind dat hy hom aan seksuele voorbereiding skuldig gemaak het en dít toe as strafverswaring te gebruik.

Hy het ook die aard en erns van die afsonderlike misdrywe oorbeklemtoon.

Verder het hy ook gefouteer deur nie te bevind dat daar wesentlike en dwingende omstandighede is om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.

Cramer sê Greyvenstein het hom vonnisse opgelê wat buitensporig swaar en onvanpas is en het gefouteer om te bevind dat hy die soort mens is wat permanent uit die samelewing verwyder moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.