Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man beken moord op PE-elektrisiën; sal teen ma, suster getuig
Wayne Russouw sit Maandag in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Port Elizabeth, waar hy later die oggend skuld beken het vir die moord op Petrus Scholtz. Foto: Lulama Zenzile

Nóg een van die beskuldigdes vir die moord op Petrus Scholtz, ’n elektrisiën van Port Elizabeth, het Maandag skuld beken en aangedui hy is bereid om teen sy ma en suster in die saak getuienis te lewer.

Só lui Wayne Russouw (33) se pleitverklaring, wat Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth deur sy regsverteenwoordiger, adv. Johan van der Spuy, voorgelees is.

Russouw is saam met sy ma, Christine (57), en sy suster, Chantell (37), aangekla vir die moord en roof met verswarende omstandighede van Scholtz (70) in Julie 2018.

Ronald Swartz (26), ’n vriend van Russouw, het reeds sowat drie weke gelede, voor die aanvang van dié moordverhoor, ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Hy is effektief 25 jaar tronkstraf opgelê.

In Russouw se verklaring het hy reeds sy ma en suster by die moord betrek. Hulle sal in Maart verhoor word.

Chantell Russouw, ’n beskuldigde in die moordsaak van Petrus Scholtz, was Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Christine en Chantell was Maandagoggend albei vlugtig in die hof, waar albei gehoor is waar hulle hul ongelukkigheid oor Russouw se pleitverklaring uitgespreek het.

In die verklaring sê Russouw hy is vroeër jare as bipolêr gediagnoseer en ly aan depressie. Hy het dwelms as ’n hanteringsmeganisme gebruik, maar gou besef sy finansies ly daaronder. Hy beweer sy ma en suster het gereeld saam met hom dwelms soos dagga en tik gebruik.

’n Week of twee voor Scholtz se moord het Russouw besef hulle het nie geld om enige noodsaaklikhede of dwelms te kan koop nie.

Hy het Scholtz vroeër by ’n plaaslike kroeg ontmoet, waarna hy ook op ’n tyd vir Russouw met elektriese werk by hul huis in Kabegapark gehelp het.

“In ’n gesprek met my ma en suster is daar besluit dat ons die oorledene na ons huis sal lok onder die voorwendsel dat elektriese werk gedoen moet word, waartydens ons hom sal doodmaak en van waardevolle items sal beroof, wat ons vir kontant kan verkoop,” lui die verklaring.

Hy beweer sy ma en suster sou nie kon help om vir Russouw te oorrompel nie, daarom het hy vir Swartz R10 000 vir sy hulp met die moord aangebied.

Met Scholtz se besoek aan die Russouws op 17 Julie 2018 het Swartz hom van agter gegryp. Russouw erken hy het vir Scholtz verskeie keer, meestal oor die kop, met ’n kolf geslaan, terwyl Swartz hom ook gewurg het.

Christine Russouw word ook van die moord op Petrus Scholtz aangekla. Foto: Lulama Zenzile

Hierna het hulle sy lyk in ’n vrieskas gedruk. Volgens Russouw het sy ma die bloed op die kombuisvloer met ’n mop skoongemaak, terwyl Chantell toegekyk het.

Hy en Chantell het toe geld uit Scholtz se beursie gevat en met sy werksbakkie wegneemetes gaan koop, voordat hulle die volgende dag Scholtz se gereedskap vir sowat R3 000 verkoop het. Met dié geld het hulle sosaties, wors en tjops vir ’n braai gekoop. Ná die braai sê Russouw het hy, Swartz en Chantell na die Fairview-woonbuurt gery waar hy Scholtz se lyk tussen bosse langs Willowweg versteek het.

Teen die volgende dag het hy Scholtz se bakkie vir R10 000 verkoop, asook die vrieskas waarin hy Scholtz se lyk aanvanklik gehou het.

’n Verbyganger het intussen op Scholtz se lyk afgekom, waarna die polisie se ondersoek hulle na sy verkoopte werksbakkie en toe die Russouws gelei het, wat in verband met die moord aangekeer is.

Russouw het Maandag gesê hy het gedurende sy tyd in aanhouding besef hy het sy en ander mense se lewens “opgemors” en hy het berou daaroor.

Hy het ook vrede gemaak met die feit dat hy vir lank in die tronk sal wees, waar hy hoop om nuwe vaardighede te leer wat hy kan gebruik wanneer hy eendag vrygelaat word.

In ooreenstemming met die pleitooreenkoms het regter Irma Schoeman vir Russouw lewenslange tronkstraf vir die moordaanklag en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.

Die vermoorde Petrus Scholtz.

Meer oor:  Petrus Scholtz  |  Wayne Russouw  |  Port-Elizabeth  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.