’n 27-jarige man van Tulbagh het ’n skuldbekentenis onderteken vir die moord op dr. Roelof Botha (59) vroeër vandeesweek.
Die lyk van dié gewilde dokter is Maandagaand langs die Schalkenbosch-pad buite die dorp gevind nadat hy vermoedelik met die lem van ’n skaapskêr doodgesteek is.

Aiden Abels het skuld beken op dr. Roelof Botha se moord. Foto: Jaco Marais
Netwerk24Foto: Jaco Marais
Aiden Abels het beken dat hy Botha vermoor het, het die staatsaanklaer in die saak Donderdag in die plaaslike landdroshof gesê.
Abels was in die beskuldigdebank saam met drie ander wat van die moord beskuldig word. Een van hulle is ’n minderjarige meisie en die ander twee is Justin Adonis (30) en Andrew Gouws (30).
Die 17-jarige meisie sal in Elsiesrivier in Huis Vredelus, ’n jeugsentrum vir meisies, bly totdat sy in Oktober vanjaar 18 word.
Landdros Pieter Klazen het gesê indien die saak teen die ander drie beskuldigdes teen haar verjaarsdag nog nie afgehandel is nie, sal sy na ’n tronk verskuif word.

Justin Adonis (30) Foto: Jaco Marais

Andrew Gouws (30) Foto: Jaco Marais

Lore` Botha se oom, Lawrence Botha, hou haar vas in die hof. Haar vriend Peter-Willem Nel (links) en tannie Zonica Mynhardt (regs) was ook daar om haar te ondersteun. Foto: Jaco Marais
Foto: Jaco Marais
Abels, Adonis en Gouws, al drie inwoners van Tulbagh, het aansoek gedoen om regshulp en by hul volgende verskyning op 9 Junie sal hulle die aansoek voltooi. Intussen bly hul in aanhouding.
Adonis het tydens die verrigtinge gedurig omgedraai om met ’n kennis te praat. “Ons gaan ’n saak maak,” het hy herhaaldelik gesê. Hy het Klazen ook onderbreek en vrae oor vingerafdrukke op Botha se voertuig gevra.
Klazen het gesê dit is nie die gepaste tyd om dit te bespreek nie.
Botha se dogter, Lore`, was in die hof saam met haar vriend Peter-William Nel, asook haar ma se sibbe en het gehuil toe die vier weggeneem is.
Nadat haar oom Lawrence Botha en tannie Zonica Mynhardt haar omhels het, het sy by die hof uitgehardloop en vir die persoon met wie Adonis gepraat het, gesê: “Dit is julle mense.”
Sy het haar trane afgevee en vinnig van die hof af weggestap.