Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man dagvaar Prasa nadat rowers hom by trein uitgooi

’n Grafiese ontwerper dagvaar die Passasierspooragentskap (Prasa) vir meer as R1 miljoen nadat hy beseer is toe rowers hom aangeval en uit ’n bewegende trein gestamp het.

Lastborn Chakanyuka voer in hofstukke aan dat die deure van die Metrorail-trein waarmee hy daardie dag vanaf sy werk terug huis toe gery het, nie toegemaak was nie, wat dit maklik vir die aanvallers gemaak het om in die treinwa te spring, hom van sy selfoon te beroof en hom toe uit die trein te gooi.

Sy prokureur, Jean-Paul Rudd van Adams en Adams Prokureurs, sê die 31-jarige man het onder meer ’n ernstige oop enkelfraktuur opgedoen toe hy die grond tref. Chakanyuka moes ’n operasie en ’n veloorplanting ondergaan.

Luidens die hofstukke, waarop Prasa nog nie gereageer het nie, het Chakanyuka in Desember 2018 soos gewoonlik ’n week-treinkaartjie vir die roete tussen Pretoria en Johannesburg, waar hy werk, gekoop.

“(Met so ’n kaartjie-aankoop) ontstaan by implikasie ’n onderneming tussen die partye dat die verweerder (Prasa) die eiser teen vergoeding sal vervoer en dat die verweerder, in die uitvoering van sy openbare diens, passasiers se fisieke welsyn en veiligheid verseker. Die verweerder moet alle redelike en noodsaaklike maatreëls tref, soos vereis van ’n openbare vervoerder, om passasiers, insluitende die eiser, te beskerm,” lui die hofstukke.

Terwyl die eiser wetlik deur die verweerder vervoer is, is hy op die trein beroof en van die trein afgegooi weens die (trein-) deure wat gedurende die rit oopgelos is.

Dié maatreëls sou insluit dat die trein se deure gesluit is aangesien “algemene operasionele instruksies” treine verbied om met oop deure te ry.

Daarby moes Prasa, aldus die hofstukke, veiligheids- of ander personeel aanstel wat verseker dat die trein se deure toe is en dat die passasiers veilig is.

Op 7 Desember verlede jaar is die treindeure egter nie toegemaak of gesluit nie.

Chakanyuka was vanaf die werk op pad terug na sy huis in Pretoria.

“Terwyl die eiser wetlik deur die verweerder vervoer is, is hy op die trein beroof en van die trein afgegooi weens die (trein-) deure wat gedurende die rit oopgelos is,” lui die hofstukke.

Rudd verduidelik dat Prasa dus aanspreeklik vir Chakanyuka se beserings is omdat die oop treindeure ’n gevaar vir passasiers skep, terwyl Prasa onder ’n wetlike verpligting is om te verseker dat die deure toe is, “inaggenome dat passasiers vir hul dienste betaal”.

Prasa was, volgens hom, nalatig deur nie veiligheidspersoneel aan boord te hê nie, nie te verseker dat die deure toe is nie en dus nie die pendelaars se grondwetlike regte beskerm het nie.

Benewens die mediese uitgawes wat Chakanyuka moes aangaan, het hy ook ’n verlies aan inkomste weens sy hospitalisasie en operasies gely.

Hy dagvaar Prasa vir R1 570 000 wat ook toekomstige mediese behandeling en skadevergoeding vir pyn en trauma insluit.

Meer oor:  Trein  |  Prasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.