Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man eis R1,3 m. van ‘nalatige’ prokureur

’n Voormalige stortingsvragmotorbestuurder wat beseer is in ’n motorongeluk terwyl hy juis op pad was om sy CV by moontlike werkgewers af te laai, eis meer as R1,3 miljoen van ’n prokureur wat glo nie betyds sy derdepartyeis ingedien het nie.

Olebogeng Gaborokwe (46) van Kuruman het die siviele eis vir professionele nalatigheid teen die firma van Isang Nakale ingestel.

Luidens hofstukke wat sy nuwe prokureur, Jean-Paul Rudd van Adams en Adams Prokureurs, by die hooggeregshof in Kimberley ingedien het, is Gaborokwe se hoogste kwalifikasie gr. 10 en het hy as leek vir Nakale volmag gegee om namens hom ’n eis by die Padongelukfonds (POF) in te dien.

Nakale staan die siviele eis teen en voer aan dat dit Gaborokwe se plig was om al die nodige dokumentasie vir die eis aan hom (Nakale) te voorsien.

Die regsaksie spruit uit ’n botsing op 13 Oktober 2009 tussen ’n bakkie waarin Gaborokwe ’n passasier was en ’n vragmotor.

Gaborokwe se regterbeen is gebreek en sy een skouer, elmboog, voet, hand en stuitjie is beseer. Hy het ook snye, kneusings, sowel as nek- en rugbeserings opgedoen.

Hy was byna drie weke in die hospitaal en nou volgens Rudd gedeeltelik gestremd en vermink. Dit het gelei tot ’n reuseverlies aan inkomste, omdat hy maande nie kon werk nie.

Hy het eers weer in 2012 werk gekry.

Daar is egter na die beste van die eiser se wete nooit ’n eis ingedien nie, of stappe is nie betyds gedoen nie en die tydperk het verval.
Jean-Paul Rudd

Gaborokwe se werkvooruitsigte is ook weens die ongeluk beperk en hy gaan heel waarskynlik verdere operasies, insluitende plastiese rekonstruktiewe chirurgie, benodig.

Die eiser het op 2 Desember 2009 na Nakale gegaan wat onderneem het om sy derdepartyeis te hanteer.

Gaborokwe moes ’n deposito van R300 betaal waarmee hy die prokureur die mandaat gegee het om namens hom op te tree.

“Daar is egter na die beste van die eiser se wete nooit ’n eis ingedien nie, of stappe is nie betyds gedoen nie en die tydperk het verval,” word aangevoer.

As Nakale sy mandaat behoorlik uitgevoer het, sou Gaborokwe ongeveer R1 349 300 van die POF kon eis vir vorige en toekomstige mediese uitgawes, verlies aan inkomste en algemene skade, luidens die hofstukke.

Aangesien Nakale die eis teenstaan, moet ’n verhoordatum nou bepaal word om die saak aan te hoor.

Volgens Rudd neem hulle dié regstappe namens Gaborokwe, omdat Nakale se beweerde optrede “teen die morele waardes van die samelewing indruis”.

Hy het verwys na sy kliënt se skolastiese kwalifikasie en gesê Gaborokwe het geensins die kennis oor hoe om ’n derdepartyeis in te dien nie, tog het Nakale, volgens Rudd, van sy kliënt verwag om hom van al die nodige dokumentasie vir ’n suksesvolle eis te voorsien.

Meer oor:  Padongelukkefonds  |  Hofsaak  |  Skadevergoeding  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.