Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man gekry wat saam met Ninow in Dros kuier

Die man wat saam met Nicholas Ninow in die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, gesit en kuier het, is deur die polisie opgespoor.

Nicholas Ninow, die vermeende “Dros-verkragter”, kom kop onderstebo die beskuldigdebank uit die hofsel ingestap. Foto: Deaan Vivier

Hoewel dit blyk dat hy Ninow nie voor die beweerde verkragting van ’n sewejarige meisie op 22 September geken het nie, het hy en die beskuldigde glo daardie namiddag/aand ’n tafel gedeel.

Dié persoon wat sedert die voorval soek was, het nou ’n verklaring afgelê en kon glo “taamlik lig werp” op Ninow se gedrag daardie aand.

Ninow se selfoon is egter steeds “weg”.

Die staat het met ’n vorige hofverskyning gevra dat hy sy foon aan die polisie oorhandig, omdat hulle dit sedert sy inhegtenisneming nie kon vind nie. Die beskuldigde wou dit nie in daardie stadium doen nie.

Riaan du Plessis, Ninow se regsverteenwoordiger van Regshulp SA, het destyds geantwoord dat die staat nie ’n beskuldigde kan vra om te help met ’n ondersoek teen hom nie.

Hy het gesê Ninow het die reg om nie inligting wat self-inkriminerend is te oorhandig nie.

Intussen wag Ninow op ’n bed in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal.

Hy is vroeër soontoe verwys om sy geestestoestand en strafregtelike toerekeningsvatbaarheid tydens die beweerde Dros-verkragting te bepaal, veral in die lig van sy geskiedenis van geestesiektes soos ’n bipolêre versteuring, asook dwelmmisbruik.

Die 20-jarige Nicholas Ninow sit snikkend in die beskuldigdebank terwyl lede van onder meer die ANC-vroueliga en die media foto’s met hul selfone van hom neem. Foto: Deaan Vivier

Adv. Sanet Jacobson, aanklaer, het Woensdag in die landdroshof in Pretoria gesê Ninow is nou 14de op die waglys vir opname by Weskoppies.

Sou daar voor die volgende hofdatum van 15 Januarie wel ’n bed beskikbaar raak, sal Ninow, soos die wet vereis, van die tronk af hof toe gebring word en dan na die psigiatriese hospitaal geneem word.

Die beskuldigde sal ook intussen na ’n distriksgeneesheer verwys word vir waarneming en ’n verslag aan Weskoppies.

Voordat die saak Woensdag uitgestel is, het landdros Ignatius du Preez die proses in die hof verduidelik.

“In die lig van die publieke aandag wat die saak ontlok, en ter wille van deursigtigheid” het hy toe beveel dat belangegroepe hul kontakbesonderhede aan ’n verteenwoordiger van die nasionale vervolgingsgesag verskaf, sodat hulle ingelig kan word as Ninow vroeër verskyn.

* Ninow word ook aangekla van die besit van dwelms, asook aanranding met die opset om ernstig te beseer omdat hy glo met sy gordel geslaan het na kelners wat hom ná die voorval probeer aankeer het.

Meer oor:  Dros  |  Nicholas Ninow
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.