Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man verkla bordeelbaas na miljoene se afpersgeld

Twee bordeeleienaars wat ’n ryk Kaapse sakeman vir miljoene afgepers het, is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis op 128 aanklagte van onder meer mensehandel en rampokkery.

Onder die lang lys klagte teen Shantel Bridger, haar seun Robin Reyneke en Juan Warren was dat hulle oor baie jare R2,8 miljoen van die beleggingsadviseur Brendan Smith geëis het.

Bridger (tweede van links)

Hulle het gedreig om seksvideo’s van hom op die internet te versprei.

Smith, die seun van die voormalige Sanlam-grootbaas Desmond Smith, was destyds 33 en ’n alleenloper toe hy een van die rampokkers se bordele besoek het.

Hulle het hom daarna gedreig dat hulle video’s en foto’s van hom saam met prostitute op so­siale media gaan plaas indien hy hulle nie R50 000 betaal nie.

Smith was bang dat hy sy werk by ’n groot beleggingsmaatskappy kon verloor en ook sy ouers in ’n verleentheid sou stel. Hy het toe die geld betaal. Hulle het op dié manier R2,8 miljoen oor vier jaar uit hom gepers.

Hy het uiteindelik rondom 2016 genoeg moed bymekaargeskraap om na die polisie te gaan.

Sy klagte het gelei tot ’n gesamentlike ondersoek, Projek Madame. Die Valke, misdaadintelligensie en die Kaapstadse metropolisie het ’n netwerk van mensehandel, rampokkery en prostitusie blootgelê waarin die 47-jarige Bridger, haar 29-jarige seun Reyneke en die 40-jarige Warren die kern gevorm het.

Luidens hofstukke het die drie tussen 2012 en 2015 ’n netwerk van bordele met name soos Mrs. Delivery en Blouberg Babes in Bloubergstrand, Tableview, Milnerton en Bellville bedryf.

Hulle het jong vroue gewerf, hulle aan dwelms blootgestel totdat hulle verslaaf geraak het en voorberei as sekswerkers.

Die vroue is soms deur Bridger en haar vennote aangerand, in skuld gehou en afgedreig.

Van Bridger se voormalige bure in Dolphinstraat, Bloubergstrand, het destyds aan Rapport vertel hulle was maar altyd “agterdogtig” oor die talle “ouer en jong meisies” en die “lang, slap” voertuie by Bridger se huis. ’n Buurman het toe ook gesê hy het al “bekendes” daar gesien.

Bridger, Warren en Reyneke het verlede week ná maande se onderhandelinge pleitooreenkomste met die staat aangegaan.

Bridger en Warren het skuld beken op 128 klagte, waaronder rampokkery, die ontvoering van ’n minderjarige, die bedryf van ’n bordeel, mensehandel, aanranding met die opset om ernstig te beseer en afpersing ter bedrae van meer as R3 miljoen.

Bridger en Warren is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan ’n deel onder streng voorwaardes opgeskort is. Sy sal effektief tien jaar lank in die tronk sit.

Reyneke het dieselfde vonnis ontvang, sowel as ’n boete van R50 000 of twee jaar tronkstraf.

Volgens ’n woordvoerder van die Valke, kapt. Philani Nkwalase, is dié saak ’n mylpaal wat skuldigbevindings ten opsigte van mensehandel betref.

Smith het gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Afpersing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.