Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man in hof ná sakeman van Worcester se skietdood

’n Man verskyn Dinsdag in die landdroshof in Worcester nadat die eienaar van ’n juwelierswinkel Vrydag in sy winkel doodgeskiet is.

Charl Munnik (44), eienaar van Munnik Juweliers, is omstreeks 09:30 in ’n rooftog in die winkel in Hoogstraat doodgeskiet.

Volgens die polisie het vier mans die winkel binnegekom en die personeel met vuurwapens gedreig.

Skote is afgevuur en Munnik is noodlottig gewond. Die aanvallers het met ’n onbekende bedrag geld gevlug.

Munnik het nog van Covid-19 herstel nadat hy laat in Desember siek geword en op 17 Januarie uit die hospitaal ontslaan is.

Charl Munnik Foto: Facebook
Blomme en foto’s van Charl Munnik Sondag by Munnik Juweliers in Hoogstraat, Worcester, waar ’n verbyrit as huldeblyk vir hom gehou is. Foto: Ruggie Erasmus/Facebook

Munnik was aanvanklik nie in die winkel nie, maar in sy woonplek bo die winkel toe ’n werknemer, wat uit die winkel kon kom, hom van die rooftog kom sê het.

Hulle is by ’n agterdeur van die onderneming in en het op ’n aanvaller afgekom waarna Munnik ’n skoot afgevuur het. Intussen was daar nog ’n aanvaller agter Munnik wat hom toe geskiet het.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisieondersoek het Saterdag tot die inhegtenisneming van ’n man gelei. Besonderhede van die inhegtenisneming en die man se ouderdom is nie bekend gemaak nie.

’n Verbyrit is Sondag as huldeblyk by Munnik Juweliers gehou en aanlyn uitgesaai. ’n Groot groep mense, waaronder motorfietsryers, het dit bygewoon. Foto’s van Munnik is vertoon en bosse blomme is op die sypaadjie neergesit.

Thys Veldsman, ’n pastoor en jare lange vriend van Munnik, wat die verbyrit geopen het, het gesê as ’n mens kyk na hoeveel mense daar is, wys dit watter soort mens Munnik was.

“Charl was ’n liefdevolle, onselfsugtige mens. Hy het mense gerespekteer en met liefde gehanteer en hulle gehelp waar hy kon,” het Veldsman onder meer gesê.

Ruggie Erasmus, nog ’n vriend, het Maandag gesê dit gaan onder die omstandighede goed met Munnik se ma. Munnik se ouers, Esmé en Kallie, het die winkel in 1972 oorgekoop en uitgebrei. Munnik het hom in 1995 by sy ouers aangesluit. Sy pa is sowat twee jaar gelede dood, volgens Erasmus.

’n Gedenkdiens, wat net deur ’n beperkte aantal mense bygewoon mag word, word Saterdag in die Worcester Christen Gemeente vir hom gehou.

Meer oor:  Charl Munnik  |  Worcester  |  Sakeman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.