Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man in hof nadat vrou (21) in tref-en-trap sterf

’n Man het Maandag in die landdroshof in Somerset-Wes verskyn nadat ’n vrou van die Strand die naweek in ’n tref-en-trap-ongeluk gesterf het.

Jonathan Coetzee (31) het op aanklagte van strafbare manslag en dronkbestuur in die hof verskyn nadat Chandré Visser (21) Saterdag omstreeks 23:30 dood is.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig hulle ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná die voorval op die hoek van die N2- en Victoriastraat waarin twee voetgangers glo deur ’n Toyota Fortuner raak gery is.

Chandré Visser (21) Foto: Facebook

Visser is glo deur die lug geslinger en op die toneel dood, maar haar kêrel, wie se naam nie bekend gemaak is nie, is ongedeerd.

Bjorn Africa, ook van die Strand, en sy gesin het die ongeluk gesien gebeur. Hy en sy verloofde, Dorney Absalom, en hul twee kinders het die Fortuner glo agternagesit.

“Ons moes tussen 150 km/h en 160 km/h ry om by te hou,” beweer Africa.

“Ná ’n paar kilometer het ek ’n verkeersvoertuig langs die pad gesien en ons het hulle ingelig dat daar ’n tref-en-trap-ongeluk was,” sê Africa.

Die bestuurder van die Fortuner is naby Macassar afgetrek en na die Somerset-Wes-polisiekantoor geneem.

Jean-Marie Dixon (20), ’n vriendin en voormalige kollega van Visser, sê sy is gebroke.

“Ek het nooit gedink die dag sal kom dat ek van haar moet afskeid neem nie,” sê Dixon.

Chandré Visser (21) en Jean-Marie Dixon (20)

Die twee het saam by die Leyendas-kroeg in die Strand gewerk voordat Visser in April bedank het. Volgens Dixon het sy ’n nuwe werk gekry en het sy dit Saterdagaand gevier.

“Ons het mekaar Vrydag gesien en planne gemaak om Woensdag saam te kuier. Sy sou na my huis toe kom om iets te leen om aan te trek. Ek kan dit nie glo nie.”

Dixon sê Visser het deeltyds verpleegkunde studeer, maar sy kon nie sê by watter instansie nie.

Dixon beskryf Visser, ’n oudleerling van Strand Sekondêr, as ’n vreugdevolle, positiewe mens wat enigiemand kon opbeur.

“Sy was altyd soos ’n lig in ’n vertrek. Daar was min plekke waar sy ingestap het en niemand geken het nie.”

Volgens Dixon was dit vir Visser se kêrel baie moeilik om die ongelukstoneel te verlaat. Hy wou glo nie in die ambulans klim nie en het geglo Visser sal wakker word.

Louinay Gionay Bruintjies, Visser se niggie, sê op Facebook: “Ek wil skree en vra: Here, hoekom my niggie, die persoon wat my slegte dag met net ’n grappie in ’n goeie dag verander het?

“Ek het jou Vrydagaand die laaste keer gesien. As ek geweet het dit is die laaste keer, sou ek jou nie laat gaan het nie. Ek is dankbaar dat ek ’n niggie soos jy kon hê. Ek en die res van die familie gaan jou ontsettend mis.”

Coetzee is op waarskuwing vrygelaat en moet op 7 Oktober weer in die hof verskyn.

Meer oor:  Strand  |  Somerset-Wes  |  Tref-En-Trap-Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.