Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man in hof oor Pierneef-skildery van R8 m.

’n Man moet Dinsdag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn op onder meer aanklagte van diefstal en bedrog wat verband hou met ’n Pierneef-skildery van R8 miljoen wat uit die Vrystaatse premier se kantoor in Bloemfontein verdwyn het.

Die skildery, waarvan die waarde op sowat R8 miljoen beraam word, het in Maart 2018 uit Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, se kantoor in Bloemfontein verdwyn.

Die Pierneef-skildery van die Oos-Vrystaat wat Ace Magashule na bewering aan sy lyfwag gegee het. Foto: Argief

Ao. Lynda Steyn, Vrystaatse woordvoerder van die Valke, sê die direkteur van openbare vervolging (DOV) het ’n dagvaarding uitgereik vir die 42-jarige man se hofverskyning Dinsdag.

Benewens die klagte van diefstal en korrupsie moet die man in die hof verskyn kragtens die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, die oortreding van art. 9 van die Wet op Vrederegters en Kommissarisse van Ede, die maak van valse verklarings in ’n beëdigde verklaring en die oortreding van artikel 32 (13) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999).

Luidens artikel 32 van die Erfeniswet mag geen persoon ’n erfenisvoorwerp (wat monumente, geboue en gedenktekens insluit) verwoes, beskadig of daaraan verander sonder ’n permit van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) nie.

Ricardo Mettler, Ace Magashule se lyfwag, buite die landdroshof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Netwerk24 het vroeër berig Magashule het glo ’n Pierneef-skildery as afskeidsgeskenk aan sy voormalige lyfwag, Ricardo Mettler, gegee toe hy sy kantoor ontruim het.

Volgens berigte in Oktober 2018 het Mettler die Pierneefskildery, wat hy glo by Magashule gekry het, by die veilingshuis Strauss & Co. in Johannesburg laat waardeer.

’n Dossier is geopen en vir verdere ondersoek aan die Valke oorhandig.

Volgens Steyn het die Valke later op die skildery beslag gelê.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê hulle is bly daar is beweging in die saak.

“Ons was nog altyd van mening dat ’n persoon nie ’n duur skildery per ongeluk kan vat en dit onskuldig aan ’n ander persoon kan gee nie. Alles wat in die premier se kantoor is, is die eiendom van die Vrystaatse provinsie.

“Ons sal graag wil sien dat Ace (Magashule), wat die skildery aan Mettler gegee het, ook ondersoek en vervolg moet word.

“As dit ’n geskenk was, hoekom het hy (Mettler) dadelik die skildery laat evalueer en toe probeer verkoop? Sy optrede laat legitieme vrae ontstaan en ons hoop ons kry antwoorde daarvoor,” sê Jankielsohn.

Volgens hom moes Magashule geweet het die skildery is die eiendom van die provinsie en behoort nie aan hom nie.

“Wat laat hom dink hy kan dit as ’n geskenk weggee? Wat maak hom verhewe bo die wet? Dit laat ’n mens wonder wat sy voormalige lyfwag gedoen het om so ’n geskenk te kry en of Ace die skildery moontlik aan hom gegee het met die doel om dit te verkoop,” sê Jankielsohn.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Ricardo Mettler  |  Bloemfontein  |  Landdroshof  |  Verskyn  |  Diefstal  |  Aanklagte  |  Kantoor  |  Premier  |  Bedrog  |  Verdwyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.