Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man in trane terwyl hy in vrou se moordverhoor getuig

Jurie Steenberg (56) was in trane toe hy Woensdag die oomblikke toe sy vrou, Riekie (51), vermoor is in die hof moes herleef.

Hy het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria begin getuig in die verhoor van Ephraim Semake (26) en Dolph Sambok (45), wat aangekla word van die moord op Riekie.

Die twee mans staan ook tereg op twee aanklagte van huisbraak met verswarende omstandighede, poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Albei is in April 2017 in hegtenis geneem.

Riekie is op 29 Junie 2016 in ’n aanval op hul kleinhoewe in Kameeldrift naby Cullinan doodgeskiet. Sy is in die skouer geskiet en die koeël het ’n aar getref. Jurie is in die blad getref.

Dolph Sambok en Karabo Ephraim Semake Donderdag in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Pretoria.Foto: Isabel Venter

Jurie het voor regter Hennie de Vos getuig dit was daardie dag nog donker. Hy het omstreeks 05:30 opgestaan vir werk. Hy wou Riekie nie pla nie en het stil-stil in die donker kamer na die deur beweeg.

“Ek het die deur oopgemaak en het sowat twee meter gevorder toe drie mans my aanval,” het ’n emosionele Steenberg getuig terwyl hy onbeheers begin huil het.

Dit het hom ’n oomblik geneem om sy emosies onder beheer te kry voordat hy verder kon getuig.

“Ek het terugbaklei en vir Riekie geskreeu om hulle te skiet, meer as een keer.”

Hy het ook getuig hy is herhaaldelik met ’n skerp voorwerp geslaan.

Een van die aanvallers het Riekie aangeval waar sy aan Jurie se kant van die bed gestaan het, naby die bedkassie waarop Jurie se rewolwer was.

Dié wapen is vir veiligheid in die huis gehou, maar dit was nog nooit nodig om dit te gebruik nie, het hy getuig.

Jurie het dié aanvaller van agter gegryp en hom begin wurg, waarna hulle albei op die grond geval en verder gestoei het.

“Die volgende oomblik was daar skote – verskeie – en ek is in die skouer getref,” het Jurie getuig.

Hy het sy bewussyn verloor, en was geskok om ’n bloeiende Riekie langs die bed te sien lê toe hy sy bewussyn herwin.

Jurie Steenberg en sy vrou, Riekie. Foto: Facebook

Jurie het vir ’n tweede keer die trane met sy sakdoek afgevee toe hy getuig het hoe Riekie herhaaldelik vir hom gesê het om “te maak soos hulle sê en als wat hulle soek te gee”.

Dit was die kluissleutels en geld.

Die aanvallers het Jurie gedreig en gesê: “Jy gaan doodgaan jou wit k**t. Jy dink jy is dapper, dit is hoekom ons jou vrou geskiet het.”

Riekie het toe nog geleef, sê Jurie.

Nadat die aanvallers gevlug het, het ’n bloeiende Jurie probeer om telefonies hulp te kry.

Dit het nie gewerk nie. Hy is na die voordeur waar hy na die huiswerker geroep het.

“Ek het herhaaldelik geroep, maar sy het nie gekom nie. Ek het in my bakkie geklim en na my werkperseel sowat twee kilometer van my huis af gery. Daar het ek een van my werkers gekry en hom gevra om die polisie te bel,” sê Jurie.

Hy het gedink die polisie sal ’n ambulans ontbied om vir Riekie te gaan haal.

“Ek het die werkers by die huis gebel en gesê hulle moet die huis en hekke vir die polisie en ambulans oopmaak,” het hy getuig.

Hy is intussen na die Montana-hospitaal, waar hy toe gehoor het daar is nie ’n ambulans beskikbaar nie.

Jurie het Riekie se ouers gebel om te gaan help, waarna hy dadelik opgeneem is.

Semake en Sambok het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle.

Semake het ’n pleitverduideliking ingedien waarin hy sê hy was van April tot September 2016 in Soshanguve waar hy gebly en gewerk het. Hy was dus nie naby die moordtoneel nie.

Sambok het geen verduideliking gegee nie, selfs nie toe getuienis by die hof ingedien is oor Jurie se rewolwer wat met sy inhegtenisneming in sy besit gevind is nie.

Die saak hervat Vrydag.

Jurie het voor sy hofverskyning gesê hy is verlig dat die saak uiteindelik begin.

“Weet jy watter impak het die saak op ’n mens se lewe en werk, ons kon al lankal klaar gewees het,” sê Jurie.

Dit maak hom ongelukkig dat mense dink hy het Riekie doodgeskiet.

Gerugte het die rondte begin doen omdat Jurie se eerste vrou, Suna, in April 2010 ook in ’n aanval vermoor is. Sedertdien het Jurie die kleinhoewe verkoop en weggetrek.

Niemand is nog vir Suna se moord aangekeer nie.

Meer oor:  Kameeldrift  |  Cullinan  |  Moordverhoor  |  Getuienis  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.