Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man kry 20 j. ná hy sy kind se ma vermoor

’n Pa wat sy dogtertjie se dwelmverslaafde ma uit woede doodgesteek het, is Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Romano Blaauw (23) van Schauderville het skuld beken op die moord van sy voormalige meisie, Millesem van Dyk (30).

Blaauw is ingevolge ’n pleitooreenkoms tussen die staat en die verdediging 20 jaar tronkstraf opgelê.

Romano Blaauw (in grys) troos sy pa in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Sy pa het begin huil nadat sy seun tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is. Foto: Lynn Williams

Dit kom nadat Blaauw die oorledene op 6 Augustus verlede jaar verskeie kere by haar suster se huis in Kobusweg, Gelvandale, gesteek het.

Sy is die volgende dag weens haar beserings in ’n plaaslike hospitaal dood.

Adv. Angus van der Spuy, Blaauw se regsverteenwoordiger, het Maandag sy pleitverduideliking voor regter Mandela Makaula by die hofrekord ingelees.

Luidens die pleitverduideliking was die oorledene voor haar dood verslaaf aan dwelms en het sy nie na die paartjie se dogtertjie, wat nou twee en ’n halwe jaar oud is, omgesien nie.

Blaauw vertel hoe die oorledene menige keer hul dogtertjie by haar suster gelos het, en hoe sy by tye meer as ’n week verdwyn het sonder om die nodige reëlings vir hul kind se versorging te tref.

Van Dyk se suster het toe dinge te veel word die polisie en die maatskaplike dienste ingeroep, waarna die dogtertjie uit haar ma se sorg verwyder is.

Volgens Blaauw het hy aanhoudend met die oorledene gestry om haar dwelmverslawing te oorkom, sodat sy hul kind kon terugkry in haar sorg.

Die hof het gehoor hoe Blaauw se pa uiteindelik toesig gekry het oor sy kleindogter, maar selfs toe het die oorledene nie pogings aangewend om haar kind gereeld te besoek nie.

Blaauw het die kind op die dag van die voorval na haar ma toe geneem om haar te probeer oortuig om ’n rol te speel in haar kind se lewe, en om die dwelms te los.

Van der Spuy het by monde van sy kliënt gesê hy gaan sy tyd in die gevangenis gebruik om homself te rehabiliteer.

“Die probleme wat sy veroorsaak het, het net een te veel geword,” lui die pleitverduideliking.

Van Dyk was onder die invloed van dwelms. Die twee het stry gekry en handgemeen geraak.

Luidens die pleitverduideliking het Blaauw na Van Dyk begin steek om haar van hom af weg te kry.

Hy het Van Dyk in haar bors gesteek nadat sy hom met ’n koppie teen sy agterkop geslaan het.

Blaauw is die volgende dag in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Sy pa het ná die vonnis begin huil. “Wees nou sterk, Pa. Moenie bekommerd wees nie, dit is oukei,” het Blaauw gesê.

Van der Spuy het by monde van sy kliënt gesê hy gaan sy tyd in die gevangenis gebruik om homself te rehabiliteer.

Adv. Garth Baartman was die staatsaanklaer.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Schauderville  |  Hof  |  Moordverhoor  |  Vonnisoplegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.