Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man kry lewenslank ná moord op Potch-paar
Boeta Smit

Die moordenaar wat Boeta (69) en Lily Smit (66) in ’n rooftog in Potchefstroom doodgeslaan het, is twee keer lewenslange tronkstraf en nóg 15 jaar opgelê.

Al die vonnisse word samelopend uitgedien, het die rondgaande hof in Klerksdorp gelas, sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Pfunzo Netshiongolwe (35) is verlede week skuldig bevind op twee aanklagte van moord, asook roof met verswarende omstandighede.

Lindie van Dyk, die Smitte se dogter, het gister gesê die familie is verlig dat die hofsaak afgehandel is.

“Die skuldigbevinding bring afsluiting, maar dit verander niks aan wat gebeur het nie.

“Ons is bly daar is nou een misdadiger minder daarbuite. Hy het geen emosie getoon toe hy skuldig bevind en gevonnis is nie. Hy was net bekommerd oor sy skootrekenaar waarop die polisie beslag gelê het toe hy in hegtenis geneem is.”

Die Smitte het nog ’n dogter, Sonja Nel, en ’n seun, Jacques.

Ao. Kevin Pretorius, die ondersoekbeampte in die saak en ’n ervare speurder, het in Ne­tshiongolwe se borgtogverhoor vroeër getuig die toneel waar die Smitte op 1 Desember 2017 aangerand is, was van die gewelddadigste wat hy in sy loopbaan aanskou het.

Boeta is op die toneel dood.

Lily is ook erg teen die kop geslaan, maar het nog sowat twee maande geleef sonder dat sy ooit weer haar bewussyn herwin het.

Lily Smit

Netshiongolwe het ná die aanval in Louwstraat met die Smitte se Isuzu-bakkie gevlug.

Mans in die omgewing het hom kort daarna vasgetrek nadat hy in twee ongelukke met die bakkie betrokke was. Hulle het hom aan die polisie oorhandig wat kort daarna op die toneel was.

Die Smitte se selfone, die afstandbeheertoestel vir hul hek en ’n pakkie sigarette van Boeta is by Netshiongolwe gevind.

Hy het nogtans skuld ontken en beweer hy het in die ure voor die aanval soveel gedrink dat hy nie die moorde sou kon gepleeg het nie.

Sy weergawe was dat hy wakker geword het in die Smitte se huis nadat hulle aangerand is en nie weet wat gebeur het nie.

DNS-toetse het gewys Boeta se bloed was op Netshiongolwe se klere.

Ao. Ronnie Gerber, ’n Potchefstroomse speurder, het in die verhoor getuig Netshiongolwe het hom uit die bloute met die vuis bygedam toe hy hom kort ná sy inhegtenisneming gevra het om sy klere vir forensiese toetse aan die polisie te oorhandig.

Pretorius het gesê die ondersoekspan is bly oor die stewige vonnis en dat Netshiongolwe gaan boet vir wat hy gedoen het.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiekommissaris in Noordwes, het die speurders geloof vir hul uitstekende ondersoekwerk wat tot die maksimum vonnis gelei het.

Pfunzo Netshiongolwe kort ná sy inhegtenisneming.
Pfunzo Netshiongolwe wys sy middelvinger vir die fotograaf vroeër tydens sy verhoor.Foto: Susan Cilliers
Van links is ao. Ronnie Gerber, ao. Kevin Pretorius en kapt. Werner Hildebrand, die polisielede betrokke by die ondersoek na die Smit-moorde.Foto: Susan Cilliers
Lindie van Dyk en haar seun, Hendrik.Foto: Susan Cilliers

Meer oor:  Moord  |  Potch-Paar  |  Boeta Smit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.