Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man kry nuwe regspan in Bezuidenhout-saak

Die verhoor van ’n 32-jarige man wat glo sy vriendin verkrag en vermoor het, kon nie Maandag begin nie omdat hy ’n nuwe regspan aangestel het.

Adéle Bezuidenhout.

Die beskuldigde sou vandeesweek in die hooggeregshof in Pretoria teregstaan op ’n aanklag dat hy Adéle Bezuidenhout (32), die ma van vier jong kinders, vermoor het. Haar lyk is op 18 Augustus 2018 in haar huis in die Rietvlei Ridge Country Estate in Cornwall Hill, Centurion, gekry.

Die beskuldigde, wat Bezuidenhout in Mei ontmoet het, is op die aand van haar moord in hegtenis geneem.

Hy is verlede jaar, toe die akte van beskuldiging op hom beteken is, ingelig dat hy ook van verkragting aangekla word. Hy kan dus nie meer geïdentifiseer word nie totdat hy op die seksuele aanklag teen hom gepleit het.

Met sy hofverskyning Maandag is waarnemende regter Peet Johnson ingelig dat sy nuwe prokureur en advokaat “laat instruksies” ontvang het om hom te verteenwoordig. Nie net kon hulle nie voorberei vir die verhoor nie, maar die advokaat is ook besig met ’n ander hofsaak.

Die saak is nou tot Mei vir verhoor uitgestel.

Die staat sal dan vermoedelik luidens die akte van beskuldiging aanvoer dat hy en Bezuidenhout op die aand van die moord in ’n kuierplek in Irene was.

Die beskuldigde is glo aangerand toe hy in ’n bakleiery met ’n ander man betrokke geraak het. Bezuidenhout het hom daar gelos en is huis toe.

Die akte van beskuldiging lui: “Kort daarna is die beskuldigde na die oorledene se huis, waar hy haar in omstandighede onbekend aan die staat verkrag en vermoor het.

“Kopbeserings toegedien deur ’n stomp voorwerp, was die oorsaak van haar dood.”

Na bewering het die verkragting met “ernstige liggaamlike geweld” gepaardgegaan.

Die staat beweer dat die beskuldigde haar dood veroorsaak het tydens of net ná die verkragting.

Die man is in aanhouding nadat hy vroeër borgtog geweier is.

Meer oor:  Pretoria  |  Centurion  |  Moord  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.