Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man los sy vrou (79) – want sy slaap rond

Sy vrou is oud maar nog lank nie koud nie . . .

So het ’n 74-jarige inwoner van ’n Pretoriase aftreeoord besef toe hy hoor sy nuwe liefde het hom glo met ’n eilandbewoner van die Filippyne verneuk.

Die vrou (79), wat nou in ’n ander aftreeoord in Pretoria woon, het haar man glo ook te lyf gegaan. Nou vrees hy haar.

Die hooggeregshof in Pretoria het die egpaar se huwelik van net meer as ’n jaar die afgelope week, op Maandag 3 September, ontbind.

Die partye – albei pensioentrekkers – se name mag ingevolge die wet nie bekend gemaak word nie.

Die man sê in hofstukke hulle is einde Mei 2017 getroud. “Daar is (vanselfsprekend) geen kinders uit die huwelik gebore nie.”

Nou het dit so verbrokkel dat daar geen vooruitsig is van ’n normale huwelik nie.

‘Ons het verskillende ideale oor wat ons lewens moet wees in die toekoms.’

Die mevrou het al op 14 April vanjaar uit hul huis getrek, die dag nadat sy haar man op sy “bors en maag geslaan het”. Sy het ook sy eiendom “beskadig”.

Daarom is hy bang vir haar.

Die man beskuldig sy eks daarvan dat sy by verskeie geleenthede terloopse seks met vreemde mans gehad het – iets waaroor sy selfs met ander mense gepraat het. Sy het in Desember verlede jaar ’n romanse “met ’n derde party van een van die eilande in die Filippyne gehad”.

Die derde party het die affair oor die telefoon aan hom bevestig, sê die bejaarde man.

Sy het ook gedurende hul huwelik verskeie kere van die huis weggebly – tot tien dae aaneen. Dan het sy hom gesmeek om terug te kom en hy het elke keer bes gegee.

Die man sê sy het munt geslaan uit sy “goeie aard en karakter”, terwyl sy deurlopend selfgesentreerd was.

Sy het hom gemanipuleer om goed vir haar te koop en dan beloof sy sou dit terugbetaal. Hy beskuldig haar selfs daarvan dat sy onwettig sy kredietkaart en tjekrekening gebruik het terwyl hy in die waakeenheid was. Hy het alle vertroue in haar verloor.

Die eks sê in haar hofstukke hulle het verskillende belangstellings ontwikkel.

“Ons het verskillende ideale oor wat ons lewens moet wees in die toekoms.”

Sy wou ook nie meer met hom getroud wees nie.

Die man het getel onder slegs 16% van bruidegoms in Suid-Afrika wat met ouer vroue trou, wys die jongste gedetailleerde statistieke oor huwelike en egskeidings van Statistieke Suid-Afrika (SSA) wat in Mei 2018 gepubliseer is vir die jaar 2016. Slegs 1% van mans het in daardie jaar met geskeide vroue getrou en van die sowat 25 300 egskeidings daardie jaar was meer as 44% van egpare wat minder as tien jaar getroud was.

Die syfers wys voorts dit is nie die feit dat die twee bejaardes op daardie ouderdom getrou het wat ongewoon was nie, maar eerder dat hulle op hul oudag geskei het.

In 2016 het 666 mans van ouer as 70 oor die tou getrap, asook 232 vroue, maar net 1% van egskeidings was tussen mense van ouer as 75, volgens SSA.

Meer oor:  Pretoria  |  Ontrouheid  |  Bejaardes  |  Egbreuk  |  Owerspel  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.