Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man nog in aanhouding oor kokaïen in skiboot

Die man wat na bewering meer as ’n halwe ton kokaïen in ’n skiboot versteek en vervoer het, bly in aanhouding totdat sy borgtogaansoek volgende week aangehoor word.

Neil Pieter van Zyl (39) het Vrydag in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklagte van die besit van en handel in dwelms nadat hy vroeër die week deur die Valke vasgetrek is.

Van Zyl, ’n lang skraal man met kort hare, het met ’n swart jas in die hof verskyn en voor hom uitgestaar.

Hy is na bewering met kokaïen ter waarde van R400 miljoen betrap toe die Valke hom Dinsdag op die N1-hoofweg in Pretoria voorgekeer het. Die kokaïen was in ’n skiboot versteek wat die man met sy bakkie gesleep het.

Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê Van Zyl het van Kaapstad gekom, maar dit is onduidelik wat sy bestemming sou wees.

Luidens die klagstaat is sy adres in Kaapstad.

Sy regsverteenwoordiger het Vrydag in die hof gesê sy kliënt ly aan tipe 1-diabetes en moet vyf keer per dag insulien kry.

Die saak is egter tot Vrydag 11 Junie uitgestel vir verdere ondersoek voordat ’n borgtogaansoek aangehoor kan word.

“Die span probeer nog vasstel of hy vorige veroordelings of sake teen hom het,” het Mogale by navraag gesê.

Netwerk24 het voorheen berig die owerhede het inligting oor die beweerde onwettige vrag ontvang en dit opgevolg.

Lede van die Valke en die polisie het Van Zyl by die R21/N1-wisselaar, waar hy in ’n noordelike rigting gery het, voorgekeer.

Mogale het toe in ’n verklaring gesê die boot is deursoek en die polisie het op meer as 800 kg se saamgeperste suiwer kokaïen met ’n geraamde straatwaarde van R400 miljoen afgekom.

Die polisie ondersoek ook die oorsprong van die dwelms en nog inhegtenisnemings kan volg.

Meer oor:  Kokaïen  |  Skiboot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.