Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man sê steeds hy’t nié aspris oor eksvrou gery
Susan Horne se lyk is destyds met ’n kombers toegegooi waar dit by die hek gelê het, nadat haar gewese man oor haar en deur die hek gery het. Foto: Lisa Hnatowicz
Nicholas Horne, destyds 19, het met ’n koeldrankbottel en sy ma se handsak vasgeklem, in ’n bondeltjie gesit en bly sê hy dink sy ma is dood.Foto: Lisa Hnatowicz

Nico Horne hou vol dat hy nie aspris oor sy gewese vrou gery het nie.

Hy het haar nie gesien nie en gedink hy ry met sy 3 ton-platbakvragmotor oor ’n klip, het die 61-jarige man aan ’n proefbeampte vertel.

Dié voorvonnisverslag is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria ingedien waar Horne vroeër skuldig bevind is aan moord en die besit van dagga.

Regter Tshifhiwa Maumela het vroeër bevind dat die man wel op 13 Maart 2015 in ’n “oomblik van woede” met opset oor Susan Horne (54) gery het.

Die beskuldigde sal later die maand gevonnis word.

Luidens die klagstaat is die Hornes in 2012 geskei, maar het weer later as man en vrou saamgebly.

Daar was ’n geskiedenis van huishoudelike geweld.

Op die dag van die voorval het Horne ten tyde van nog ’n argument by hul huis in Derdepoort, Pretoria, na sy vragmotor gegaan. Susan het die motorhek voor hom toegemaak.

“Die beskuldigde het uit die vragmotor geklim en die oorledene aan haar nek gegryp. Hul bure het tussenbeide getree en die beskuldigde het terug in sy vragmotor geklim. Die beskuldigde het die oorledene en die hek met die vragmotor getref.

“Die oorledene het op die grond geval. Die beskuldigde het oor haar gery en die toneel met die vragmotor verlaat. Die oorledene is op die toneel dood.

“Oorsaak van dood: veelvuldige beserings,” het die klagstaat aangevoer.

Kort nadat Horne weggery het, het die egpaar se 19-jarige verstandelike gestremde seun sy ma se lyk gesien.

Hy het in ’n bondeltjie gesit, sy ma se handsak vasgeklem en gemompel: “My pa het oor my ma gery. Ek dink sy is dood. Waar gaan ek weer ’n pappa en mamma kry wat vir my lief is?”

Luidens die proefbeampteverslag het Horne tydens die voorval vir ’n insleepdiens gewerk. Hy het die voertuig by hom gehou vir ingeval hy ontbied word.

Dit blyk dat hoewel hy en Susan daggagebruikers was, sy ook bier gedrink het – tot Horne se ergernis.

Op die dag van die voorval het Susan glo bier saam met haar voorskrifmedisyne gedrink en dagga gerook, het die beskuldigde aan die proefbeampte vertel.

Hy het niks gerook of gedrink nie, omdat hy dalk moes gaan werk.

Om 14:20 is hy toe wel gebel om te gaan werk.

Susan wou nie gehad het hy moet gaan nie. Sy het hom probeer keer deur tussen die vragmotor en die hek te gaan staan.

Toe Horne die hek oopmaak, het sy dit weer toegemaak.

Dit was toe wat hy haar aan die nek gegryp het en uit die pad gestamp het.

“Toe hy deur die hek ry, het hy haar nie voor die vragmotor gesien nie, maar gevoel hy ry oor iets. In daardie stadium het hy gedink hy ry oor ’n klip wat altyd in die oprit lê,” het die verslag gelui.

Getuies in die hof het egter aangevoer dat, nadat Horne vir Susan neergegooi het, sy opgestaan het en weer probeer het om die hek toe te maak.

“Sy was besig om die hek toe te maak toe die beskuldigde haar en die hek met die vragmotor raakgestamp het.

“Sy het geval. Die vragmotor se linkerkantste wiele het oor haar gery,” het die verslag gelui.

Horne se werkgewer het aan die proefbeampte vertel hy moes soms vir Horne dwing om af te vat en het agtergekom die beskuldigde gebruik sy werk om te vlug van sy huislike omstandighede.

Horne self het egter ’n rits vorige veroordelings vanaf 1967 tot 2012.

Meer oor:  Vrouemishandeling  |  Ongeluk  |  Raakgery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.