’n Verkragter van Mothibistad in die Noord-Kaap is Woensdag lewenslange tronkstraf en nog 26 jaar in die Kuruman-streekshof gevonnis.
Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê Tshepiso Oliphant (32) is op twee aanklagte van verkragting skuldig bevind.
Op 14 Desember 2012 het hy ’n 18-jarige meisie na die Promise Land-gebied in Mothibistad gelok waar hy haar twee keer in ’n veld verkrag het.
Hy het die meisie van haar selfoon en kontant beroof en haar in die veld gelos.
Die meisie het die voorval by die polisie aangemeld en het dadelik mediese behandeling ontvang.
In die tweede voorval het hy op 12 Julie 2013 ’n 29-jarige vrou verkrag.
Hy het op dieselfde plek as die vrou langs die hof in Kuruman vir ’n rygeleentheid gewag.
Oliphant en die vrou het albei met dieselfde voertuig ’n geleentheid gekry en hy het ook uit die motor geklim waar sy uitgeklim het.
Hy het die vrou gegryp en haar by ’n verlate huis ingesleep waar hy haar twee keer verkrag en haar selfoon en kontant geroof.
Oliphant is op 11 September 2013 in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.
Oliphant het hierna spoorloos verdwyn, maar is op 9 September verlede jaar vasgetrek.
Hy is deur DNS met albei sake verbind en het tot en met sy vonnisoplegging in aanhouding gebly.
Gen. maj. Henriette de Waal, waarnemende provinsiale kommissaris van die polisie in die Noord-Kaap, het die vonnis verwelkom en speursers. Sipho Andrease vir sy uitstekende ondersoekwerk wat tot Oliphant se skuldigbevinding en vonnisoplegging gelei het, bedank.