Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man skuldig aan moord ondanks ‘nuwe’ vingerafdruk
Justice Sethlangu (39) is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind vir die moord op Johann Heunis van Kameeldrift in Pretoria. Foto: Isabel Venter

Justice Sethlangu (39) is Dinsdag skuldig bevind aan die moord op ’n man wat voor sy gesin doodgeskiet is.

Johann Heunis is op 1 Oktober 2016 in sy huis in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria herhaaldelik in die bors en kop geskiet ten aanskoue van sy vrou wat toe ver swanger was met hul vierde kind, asook sy vierjarige dogter, Mieke.

Sethlangu het volgehou dat hy niks van die moord weet nie.

Dit was vir hom uiters verbasend dat Mariandra, Heunis se weduwee, hom as die moordenaar uitgewys het in ’n polisie uitkenningsparade, het Sethlangu in die hooggeregshof in Pretoria gesê.

Buiten vir die moord op Heunis, is Sethlangu ook skuldig bevind vir sy aandeel in twee ander huisbrake in dieselfde omgewing.

Sethlangu is skuldig bevind op drie aanklagte van huisbraak met die opset om te roof, moord en een klag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Regter William Letsoalo het in sy uitspraak gesê die bewyse het swaar teen Sethlangu geweeg.

Justice Sethlangu (39) steek Dinsdag sy gesig weg vir die kamera. Hy is skuldig bevind aan onder meer moord en huisroof.Foto: Isabel Venter

Sethlangu se vingerafdrukke is op twee misdaadtonele, ná die rooftog by die huis van dr. Marti Koen op 21 Junie 2016, en ná die rooftog op 29 Julie 2016 by die huis van Stephanus Louwrens en Maria Beets, gevind.

Tydens sy verhoor het van Sethlangu se vingerafdrukke wel drasties verander. Sy regterduim se afdruk was onherkenbaar vermink.

Ten spyte hiervan kon ’n vingerafdrukspesialis steeds Sethlangu se “nuwe” afdruk positief verbind met dié wat op die misdaadtonele van Koen, Louwrens en Beets gevind is. In Johann en Mariandra se huis kon die polisie slegs handskoenafdrukke kry op ’n leer wat gebruik is om toegang tot die huis te bekom.

Die staat het aangevoer dat daar in al drie gevalle nog aanvallers was, maar dat hulle tot op datum nog op vrye voet is.

Ten spyte hiervan het Letsoalo bevind dat Koen en Mariandra sonder aarseling vir Sethlangu uitgewys het as dié een wat die vuurwapen hanteer het.

In Johann se geval was hy die moordenaar wat hom summier in die kop geskiet het nadat Mieke vir hom en die aanvallers gesê het hulle kan maar die geld uit haar spaarbussie vat.

Adv. Josie van der Westhuysen, staatsaanklaer, het vir die maksimum vonnis gevra.

“Hy het geen berou getoon vir sy dade nie, maar verwag van die hof om hom genade te betoon. Dit is onaanvaarbaar. Heunis is koelbloedig doodgeskiet. Al die ander slagoffers gaan lewenslank die letsels van hierdie misdade dra, daarom sal die swaarste straf gepas wees,” sê Van der Westhuysen.

Letsoalo sal na verwagting later vandeesweek die vonnis oplê.

Johann en Mariandra Heunis. Foto: Verskaf

Meer oor:  Kameeldrift  |  Johann Heunis  |  Justice Sethlangu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.