Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man skuldig aan verkragting van studente

Die man wat ’n student aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) verkrag en nog ’n student seksueel aangerand het, is Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind.

Kwanele Kilana (29) van Zwide is skuldig bevind op 11 aanklagte, waaronder verkragting, roof met verswarende omstandighede, gedwonge seksuele aanranding en seksuele aanranding.

Kwanele Kilana wat skuldig bevind is aan ’n rits aanklagte, waaronder verkragting en seksuele aanranding. Foto: Argief

Kilana, wie se misdade in Julie 2017 begin het, het skuld beken op sewe van die aanklagte teen hom.

Behalwe vir die voorval by die NMU, het Kilana ook ’n 27-jarige vrou naby die Greenacres Village-meenthuiskompleks verkrag en beroof.

Kilana het die 25-jarige student aan die NMU in een van die rekenaarlaboratoriums op kampus verkrag.

Die vrou se 30-jarige vriendin is in dieselfde laboratorium seksueel aangerand.

Hy het een van die vroue tydens die voorval met ’n skêr in die rug gesteek.

Kilana se skuldigbevinding aan gedwonge seksuele aanranding hou verband met die feit dat hy die vriendinne gedwing het om te soen terwyl hulle albei naak was.

Khaya Saziwa, die verkragter se regsverteenwoordiger, het gesê dwingende en wesenlike omstandighede bestaan vir regter Dayalin Chetty om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank.

Volgens Saziwa is die feit dat Kilana sy ouers op ’n jong ouderdom verloor het en grootgeword het in ’n plek waar hy blootgestel is aan geweld en misdaad, versagtende omstandighede.

Saziwa sê ook die verkragting by die NMU was “opportunisties”, want sy kliënt was daar met die doel om te steel.

Adv. Ishmet Cerfontein, staatsaanklaer, sê die minimum voorgeskrewe vonnisse is gepas as jy die aard van die misdrywe in ag neem.

Cerfontein sê die NMU-studente is aangeval in ’n plek waar hulle veronderstel was om veilig te voel. Hulle was besig om te studeer.

“Hy het die klaers verneder deur hulle te dwing om te soen. Kan jy jouself indink hoe vreesbevange hulle was?

“Een van die vroue het hul finale jaar gedruip, en die kursus wat sy gedoen het, word nie meer aangebied nie.

“Sy persoonlike omstandighede beteken niks as dit opgeweeg word teenoor wat die klaers moes verduur nie.”

Kilana word Donderdagoggend gevonnis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.