Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man steek sy vrou glo op straathoek in Kuruman dood

“As ek jou nie kan hê nie, dan kan niemand nie, ook nie jou kinders nie,” is glo wat Hennie Oosthuizen (68) Woensdag aan sy vrou, Zoetje (65), gesê het voordat hy haar na bewering met ’n slagtersmes aangeval en doodgesteek het.

Oosthuizen het Vrydagoggend vlugtig in verband met die grusame moord in die landdroshof op Kuruman in die Noord-Kaap verskyn.

Volgens Nico van Noordwyk, Zoetje se skoonseun en haar prokureur, het Oosthuizen sy skoonma Woensdagoggend by die egpaar se huis gedreig.

“Sy het daarna haar naels laat doen en my gebel om my van die voorval in te lig.”

Van Noordwyk het die polisie gebel en ’n dringende aansoek vir ’n gesinsgeweld-interdik ingedien.

Zoetje Oosthuizen (65) en haar man, Hennie (68).

Die polisie het Oosthuizen omstreeks 13:00 uit die egpaar se huis begelei.

“Die polisie was fantasties en het ons so goed bygestaan om Hennie te verwyder.”

Oosthuizen was egter nie in aanhouding nie en Van Noordwyk beweer hy het daarna ’n bottel brandewyn gekoop wat hy leeg gedrink het.

Volgens Van Noordwyk het Oosthuizen toe vir Zoetje gebel om vir hom nog klere en sy hond te bring waar hy op ’n straathoek in die dorp gestaan het.

“Hy het haar letterlik na die plek gelok waar hy haar aangeval het,” beweer hy.

’n Emosionele Van Noordwyk sê as hy geweet het Zoetje het dié oproep van Oosthuizen ontvang, sou hy haar aangeraai het om nié na hom toe te gaan nie aangesien die interdik reeds in werking getree het.

“Hy het haar glo van agter met ’n slagtersmes aangeval. Dit was net een steek wat toegedien is.”

Van Noordwyk en nog ’n familielid het Zoetje se lyk Vrydag gaan uitken.

“Dit was traumaties. Die slagtersmes het onder haar sleutelbeen ingegaan en deur haar hart en long gesny.”

Die Oosthuizen-egpaar was ongeveer 18 maande getroud.

Hulle was besig om te skei en Van Noordwyk vermoed die beweerde aanval was uit woede en jaloesie.

Hy sê sy vrou, Hannelie, en haar sibbe, FP Aucamp en Esca Jacobs, sukkel om die moord op hul ma te verwerk.

As ek jou nie kan hê nie, dan kan niemand nie, ook nie jou kinders nie.

“Ons gaan vir die naweek wegbreek waar daar nie 'n selfoonsein is nie. Ons word oorval deur oproepe van omgee van so ver as Namibië en oor die land heen.

“Hannelie hanteer dit nie baie goed nie en ons is ook baie bekommerd oor Esca wat in Australië afgesonder is.”

Die Van Noordwyk-egpaar se 11-jarige seun gaan ook deur ’n moeilike tyd en sukkel om die moord op sy ouma te verwerk.

“Ek het hom vanoggend by die skool gaan haal en het dadelik sielkundige berading vir hom gereël. Hy het eers woedebuie beleef en nou is hy ontroosbaar hartseer.”

Van Noordwyk het Zoetje as ’n liefdevolle ma beskryf wat uit haar pad sou gaan om mense te help.

“Die lewe het haar so stief behandel, maar ten spyte daarvan het sy altyd ’n aansteeklike glimlag gehad wat van oor tot oor gestrek het.”

Oosthuizen sal op 12 Oktober vir ’n borgtogaansoek in die hof op Kuruman verskyn. Van Noordwyk sal die aansoek teenstaan.

Meer oor:  Kuruman  |  Moord  |  Messteek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.