Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man vas wat ‘internet-vriende’ uit miljoene bedrieg

’n Man van Kaapstad wat met ’n kammakastige internet-vryery Amerikaners uit meer as R4 miljoen bedrieg het, het Maandag in die stad se landdroshof verskyn.

Die Valke en die Amerikaanse Federale Buro van Ondersoek (FBI) het saamgewerk om die 48-jarige man vas te trek.

Die verdagte, Christiano Ogbeifun, staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery, sê kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke. Hy is Vrydag in hegtenis geneem en bly in aanhouding tot 5 Augustus wanneer hy om borgtog sal aansoek doen.

’n Waarskuwing teen internet-bedrog deur die Amerikaanse regering.Foto: Verskaf

Die Valke en FBI het Vrydag saam toegeslaan en die man aangekeer.

Nkwalase sê daar word beweer die verdagte het meestal slagoffers in Amerika met sy stories bedrieg nadat hy hulle op ’n kuier-webwerf ontmoet het.

Nadat die man sy slagoffers se vertroue gewen het, het hy hulle glo oortuig dat hy probleme met sy onderneming het en geld by hulle wil leen, en het glo belowe dat hy die geld sou terugbetaal.

Op dié manier het hy sy slagoffers sover gekry om gesamentlik meer as R4,1 miljoen in sy bankrekening in Suid-Afrika in te betaal.

Op die webblad van die Amerikaanse regering se buro vir konsulêre sake word mense gewaarsku teen ’n bedrogspul op die internet waar iemand wat jou nie eens ken nie, baie gou hul vriendskap of romanse aanbied en selfs voorstelle maak om te trou.

Loop lig wanneer daardie nuwe vriend of sogenaamde liefde geld vra om dinge soos hospitaalrekeninge, visum-koste of regskoste te betaal, of as hulle kwansuis ewe skielik geldelike probleme het.

Die boodskap van die Amerikaners is duidelik: As iemand wat jy op ’n webwerf ontmoet het, geld vra, weet maar dis ’n verneukspul. Verbreek dadelik alle bande met daardie persoon.

Meer oor:  Valke  |  Slenter  |  Bedrog  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.