Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man wat eks se huis afbrand, pleit om nie tronk toe te gaan
Alec de Wit (links) en sy regsverteenwoordiger, Johan Kramer, Maandag buite die streekhof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

“Dit is aardse goed. ’n Mens gaan nie daarmee hemel toe nie,” het ’n afgetrede sakeman van Bloemfontein, wat sy eksvrou se huis afgebrand het, in die stad se streekhof getuig.

Alec de Wit (68) van die Ferreira-kleinhoewes by Bloemfontein het ter versagting van sy vonnis getuig.

Hy is vroeër skuldig bevind op aanklag van brandstigting, aanranding met die opset om ernstig te beseer, die oortreding van ’n beskermingsbevel en die onwettige besit van ammunisie.“Ek is spyt oor dinge wat gebeur het, maar dit het van twee kante gekom,” het hy voor die streeklanddros Marina Voges getuig.

Die saak spruit uit gebeure op Oujaarsdag 2016 toe hy sy eksvrou, Lize van Tonder (51), se huis in Gardeniapark aan die brand gesteek het.

Dié aand is altesaam 25 patrone van ’n 7.65-Browning-pistool in sy besit gekry.

As julle hom laat vrygaan, gaan hy nog iets ergs aan my doen. Hy hou net nie op nie.
Lize van Tonder

De Wit is ook daaraan skuldig bevind dat hy ’n maand voor dié voorval Van Tonder se dogter, Marle, met ’n graaf, vuiste en die oop hand aangerand het.

In kruisondervraging deur Charn Engelbreg, namens die staat, het De Wit gesê ’n “mens het perke”.

“Jy kan net soveel tot op ’n punt vat en dan kan jy dit nie meer vat nie.”

Engelbreg: “Wat jy basies sê, is sy (Lize van Tonder) het daarvoor gesoek?”

De Wit: “Die eerste houe het van haar af gekom, nie van my kant af nie.”

De Wit, wat woonstelle op sy erf uithuur, het gevra dat die hof hom nie regstreekse tronkstraf oplê nie. Hy het gesondheidsprobleme en huisves drie gestremdes en ’n behoeftige ma en dogter op sy hoewe.

“Hulle gaan op straat sit as ek tronk toe gaan.”

Van Tonder het ter verswaring van vonnis in trane getuig sy en haar dogters leef steeds in vrees vir haar eksman.

“As julle hom laat vrygaan, gaan hy nog iets ergs aan my doen. Hy hou net nie op nie,” het sy snikkend gesê.

Sy het ook getuig De Wit het geglo sy was binne-in die huis toe hy die brand gestig het en hy wou haar ernstige leed aandoen.

Johan Kramer van Weihmann en Joubert-prokureurs tree namens De Wit op.

Hy sal later vandeesweek sy lot aanhoor.

* Van Tonder se versekeringsmaatskappy het ’n siviele eis van sowat R1,4 miljoen teen De Wit ingestel.

Meer oor:  Huishoudelike Geweld  |  Eks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.