Johan Steyn, die man wat in April 2019 by Die Boord-winkelsentrum in Stellenbosch oor ’n veiligheidswag gery het, is Donderdag in die landdroshof in Stellenbosch gevonnis.
Hy is ses jaar tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaardes dat hy nooit weer skuldig bevind word aan ’n soortgelyke klag nie.
Hy is in Mei vanjaar skuldig bevind aan poging tot moord op Mzwanele Wellem (39).
Steyn, wat in Uitzicht, Durbanville woon, se rybewys is ook opgeskort vir 12 maande en hy sal toegelaat word om onder korrektiewe toesig in huisarres te wees vir die volle duur van sy straf.

Johan Steyn tydens sy hofverskyning in die landdroshof op Stellenbosch. Foto: Jaco Marais
Hy mag gaan werk en na en van die werk reis en hy mag een keer per week ’n godsdienstige byeenkoms bywoon.
Hy sal as deel van sy straf ook 576 uur gemeenskapsdiens moet doen met ’n minimum 16 uur per maand by die Durbanville-polisiekantoor. Die diens behels skoonmaak en ander pligte op Saterdae tussen 08:00 en 16:00.
Steyn het in Oktober 2019 in ’n pleitverduideliking gevra sy aanklag moet verander word in een van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die staat het nie daarmee saamgestem nie en daarop aangedring dat dit poging tot moord is.
In sy verduideliking het hy gesê hy het nooit bedoel om Wellem dood te maak nie.
Die voorval is op kringtelevisiekameras op die parkeerterrein van die winkelsentrum vasgevang.
Wellem kon nie na vonnisoplegging vir kommentaar bereik word nie.