Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man wat vrywilliger by Comrades raak ry, gee hom oor

’n Man wat ’n vrywilliger by die Comrades-marathon by ’n waterpunt in ’n tref-en-trap-ongeluk ernstig beseer het, het homself aan die polisie oorgegee.

Johan Doubell (51) is verlede Sondag douvoordag raak gery.

Johan Doubell en sy verloofde, Erika Erasmus-Kapp.

Erika Erasmus-Kapp (46), sy verloofde, sê albei sy bene is gebreek. “Die staal van sy knievervanging van verlede jaar is gebreek, sy skedel is op twee plekke gekraak, hy het bloeding op sy brein gehad, sy oogkas het seergekry en vier van sy ondertande het in sy tandkaste gesak.”

Erasmus-Kapp werk al die afgelope vyf jaar as ’n vrywilliger by die Comrades en het vanjaar die eerste keer vir Doubell saamgevat. “Ons het 04:00 die oggend omtrent 9 km van die wegspring af, aan die onderkant van die Polly Shortts-bult, ’n waterpunt weerskante van die pad opgestel. Omtrent 04:20 het ’n ligblou bakkie met ’n vreeslike spoed aangejaag gekom.”

Doubell, ’n produksiebestuurder by ’n chemiese maatskappy, het ’n boks vol watersakkies oor die pad gedra toe hy omgery is.

“Die bakkie het reguit op die tafel aan sy kant van die pad afgepyl. Hy het die tafel skrams getref en die bestuurder het die stuurwiel na regs geruk. Toe tref hy vir Johan,” sê Erasmus-Kapp.

Drie of vier vroue wat sy nie ken nie, is ook getref, maar gelukkig nie ernstig beseer nie.

Doubell, ’n diabeet, het Woensdag in die St. Anne-hospitaal in Pietermaritzburg sy eerste operasie ondergaan.

Erasmus-Kapp, ’n nagsuster by die Greys-hospitaal in Pietermaritzburg, sê Doubell is steeds in die waakeenheid.

“Hulle praat van vier tot ses maande vir rehabilitasie. Dis seer en hartseer, maar ons sal hierdie pad wat die Here vir ons beplan het, saam stap.”

Kol. Thulani Zwane, ’n polisiewoordvoerder, sê die 51-jarige bestuurder van die bakkie is op waarskuwing vrygelaat. Die polisie wil nie sy naam bekend maak voordat hy in die hof verskyn nie. “Klagte van roekelose en nalatige bestuur en die versuim om ná die ongeluk te stop, word ondersoek.”

Meer oor:  Comrades
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.