Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man weer in hof ná moord in 2011 op eksmeisie

’n CD, vermoedelik met beeldmateriaal van toe Andrea Venter destyds aangeval is, is Vrydag as deel van die blootlegging van die dossier aan haar gewese kêrel se regsverteenwoordiger verskaf.

Gerhard Jansen van Vuuren (39), weer met voetboeie aan, het vir die tweede keer sedert hy deur Brasilië aan Suid-Afrika uitgelewer is, in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn op aanklagte van moord op Venter (toe 24) en aanranding van Thulani Ndlovu, ’n veiligheidswag by haar woonkompleks.

Die voorval was op 2 Mei 2011 en die verhoor teen die beskuldigde sou op 20 Mei 2013 begin. Hy het egter vier dae voor dit landuit gevlug.

Op 9 Oktober vanjaar is Jansen van Vuuren na Suid-Afrika teruggebring.

Hy het kort daarna in die hof verskyn waar die saak tot Vrydag uitgestel is sodat ’n regsverteenwoordiger van die Regshulpraad vir hom aangestel kon word.

Omdat die staat sewe jaar gelede reeds gereed was vir verhoor, was die akte van beskuldiging met sy eerste verskyning ná sy terugkeer al gereed – onveranderd sedert 2013.

Gerhard Jansen van Vuuren sit met voetboeie aan in die beskuldigdebank waar hy Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn het ná die moord op sy gewese meisie, Andrea Venter. Foto: Hanti Otto

Adv. Paul Schutte, aanklaer, het Vrydag aan regter Jack Mabesele gesê ’n regsverteenwoordiger is Donderdag aan die saak toegewys en die staat het klaar afskrifte van die dossier en ’n CD “wat verband hou met die saak”, aan hom oorhandig.

Rodgers Machovani het, met sy hand op die twee lywige bruin lêers vol dokumente en die CD, bevestig dat hy namens Jansen van Vuuren sal optree.

Die saak is toe na later die maand uitgestel vir voorverhoorverrigtinge en ’n moontlike verhoordatum.

Jansen van Vuuren bly in aanhouding.

• Die akte van beskuldiging lui dat Jansen van Vuuren, toe hy 30 jaar oud was, Venter glo by haar woonkompleks in Lonehill, Johannesburg, verskeie kere met ’n mes gesteek het.

Hy het Ndlovu glo ook aangerand deur hom met fisieke geweld te dreig.

Die feite van die saak, luidens die akte, is: Die oorledene en beskuldigde was in ’n liefdesverhouding. Daar was ’n geskiedenis van geweldadige gedrag deur die beskuldigde op die oorledene, wat daartoe gelei het dat Venter ’n beskermingsbevel teen Jansen van Vuuren bekom het.

“Op 2 Mei 2011 was die oorledene en beskuldigde saam by haar woning. Die beskuldigde het die oorledene in die woning met ’n mes aangeval. As gevolg hiervan het sy uit die woning gehardloop. Die beskuldigde het haar gejaag.

“Buite het die beskuldigde die oorledene gegryp en verskeie kere met die mes gesteek. Die beskuldigde het die oorledene se nek gesny en toe gepoog om sy eie keel te sny.

“Die oorledene is op die toneel dood weens veelvoudige steekwonde,” lui die akte.

Dit is na bewering by die veiligheidswag en -hek waar veiligheidskameras die gebeure afgeneem het.

Venter se pa, Dries, het vroeër vertel dat sy laatlam-dogter juis destyds van Rustenburg af na die Johannesburg-omgewing getrek het om van Jansen van Vuuren se beweerde herhaaldelike teistering weg te kom.

Die beskuldigde het egter haar adres opgespoor.

Jansen van Vuuren het sy beweerde selfdoodpoging oorleef en was in die hospitaal in aanhouding. Hy het verskeie mislukte borgtogaansoeke gebring totdat hy hom tot die hooggeregshof gewend het. Daar is hy borgtog van R15 000 toegestaan.

Hy het kort daarna gevlug.

’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en die moordverdagte is op Interpol se rooi lys van mees gesoektes geplaas.

Die volgende jaar het die Suid-Afrikaanse polisie se ondersoekgerigte eenheid Jansen van Vuuren in Brasilië opgespoor en hy is deur Brasilië se federale polisie gearresteer vir die besit van vervalste identiteitsdokumente en omdat hy ’n polisieman probeer omkoop het.

Hoewel Suid-Afrika ’n uitleweringsaansoek vir die voortvlugtende gebring het, is hy later in 2016 “verkeerdelik” daar vrygelaat en het weer verdwyn.

Verskeie Suid-Afrikaanse polisie-eenhede het egter weer op sy spoor gekom en op 18 Junie vanjaar is Jansen van Vuuren in Rio de Janeiro gearresteer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.