Twee mans in die Noord-Kaap is deur die landdroshof in Kimberley beboet vir bedrog met tenders vir mediese toerusting.
Archibald Mojaki Seboko (37) en Fako Jim Khanoka (33) is onder die ses mense wat in Junie 2018 in hegtenis geneem is.
Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, sê in ’n verklaring die mense is aangekeer tydens ’n gesamentlike operasie in Johannesburg, Bloemfontein en Kimberley.
“Die inhegtenisnemings volg ná aantygings van growwe onreëlmatighede in die toestaan van verskeie tenders vir infrastruktuur deur die Noord-Kaapse departement van gesondheid tussen 2013 en 2016. Minstens R11 miljoen is glo gedeel tussen ses maatskappye wat verbind word met die ses mense om mediese toerusting te verkry.”
Sowel Seboko as Khanoka het skuld beken op verskeie klagte van bedrog en is onderskeidelik boetes van R30 000 en R40 000 opgelê. Hulle het ook opgeskorte vonnisse gekry. - News24