Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mans uit op borgtog in ‘swak’ transito-roofsaak

’n Landdros het Maandag in Roodepoort borgtog toegestaan aan ’n gewese ANC-werknemer en nog drie vermeende transitorowers omdat hy meen die staat se saak teen die vier is swak.

Errol Velile Present Foto: Facebook

Landdros John Baloyi het borgtog van R4 000 aan Errol Velile Present (33), wat voorheen vir die ANC gewerk het, asook Itumeleng Manama (40), Bheki Biyela (38) en Zakhele Zondi (37) toegestaan. Hulle moet hulle ook elke weekdag tussen 06:00 en 18:00 by hulle naaste polisiekantoor aanmeld.

Baloyi het bevind dat die staat nie tasbare getuienis gelewer het nie. Hy het daarop gewys dat getuies nie een van die mans op ’n uitkenningsparade aan die misdaadtoneel kon verbind nie.

Verder was daar oor kringtelevisiemateriaal nie en die mans se vingerafdrukke is nie in die wegkomvoertuie gevind nie.

Hy het ook bevind dat ’n DNS-bloedmonster wat op die toneel gekry is, nie dié van enige van die beskuldigdes is nie. Daarbenewens is nie enige geld of vuurwapens in enige van die mans se besit gekry nie.

“Die staat se saak kan as swak en kwalik bestaande bestempel word,” het Baloyi gesê.

Die vier is in Julie deur die honde-eenheid van die Johannesburgse metropolisie in hegtenis geneem in verband met ’n transitorooftog in Dobsonville waartydens ’n sekerheidswag gewond is.

Die vier word aangekla van roof met verswarende omstandighede, poging tot moord en die besit van vermoedelik gesteelde voertuie.

Die staat se saak kan as swak en kwalik bestaande bestempel word.

Verlede week het kol. Solomon Mabasa, ondersoekbeampte, getuig dat Present twee gekaapte voertuie – Volvo en Ford Ranger – vir ’n rooftog by ’n Capitec Bank gereël het en een van die motors bestuur het. Zondi het na bewering die tweede voertuig bestuur.

Drie van die mans het vorige veroordelings.

In 2002 is Zondi skuldig bevind aan poging tot moord en 11 jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is in 2009, ná sewe jaar agter tralies, op parool vrygelaat.

Manama is in 2002 skuldig bevind aan sameswering om roof te pleeg en tot 11 jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is onduidelik hoeveel jaar hy uitgedien het voordat hy op parool vrygelaat is.

Biyela is in 2014 skuldig bevind aan diefstal. Hy is gevangenisstraf van vyf jaar opgelê en ná twee jaar en ses maande op parool vrygelaat.

Meer oor:  Errol Velile Present  |  Roodepoort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.