Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Marcel is nié ’n psigopaat’ – sielkundige

Marcel Steyn (21) gebruik dalk dwelms en sy toon tekens van ’n bipolêre gemoedsversteuring, maar sy is beslis nie ’n psigopaat nie, het ’n kennergetuie Dinsdag in die hof getuig.

Rosalind Macnab, die sielkundige wat Marcel geëvalueer het. Foto: Simon Sonnekus

Rosalind Macnab, ’n opvoedkundige en voorligtingsielkundige van Bedfordview aan die Oos-Rand, het Marcel se voorvonnisverslag aan die hof voorgehou.

Marcel het saam met Cecilia Steyn (38) en Zak Valentine (34) in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn waar die voorvonnisverrigtinge vandeesweek plaasvind.

Macnab het ’n reeks persoonlikheidstoetse en selfs psigometriese toetse op Marcel gedoen en twee keer vieruurlange konsultasies met haar gehad. Macnab was ook verskeie dae in die hof tydens die moordverhoor.

Volgens haar “weet Marcel wat reg en verkeerd, en wettig en onwettig is” en het sy deelgeneem aan die moorde en misdrywe omdat sy bang was vir Cecilia en haar ma, Marinda. Sy het getuig Marcel is hoogs intelligent, maar emosioneel onvolwasse.

Sy het ook benadruk dat Marcel se bipolêre gemoedsversteuring nie psigotiese simptome toon nie en verduidelik Marcel is nie uit voeling met die werklikheid nie, wat beteken dat sy suksesvol gerehabiliteer sal kan word.

Volgens Macnab toon Marcel ook tekens van obsessiewe kompulsiewe versteuring en distonie – laasgenoemde laat haar afgestomp en emosieloos voorkom.

Die een onderwyseres was egter in haar matriekjaar (2015) baie bekommerd toe Marcel, gewoonlik ’n negentigpersenter, se punte in Junie daardie jaar drasties geval het.

Die koue Marcel is egter nie die ware Marcel nie, het Macnab volgehou en gesê dié afstomping is vermoedelik ’n hanteringsmeganisme wat sy weens haar moeilike omstandighede aangeleer het.

Die dwelms wat sy gebruik “is eie aan iemand wat psigiese pyn wil verdoof”, het Macnab gesê en getuig dat Marcel nie meer tik of cat snuif nie, maar dat sy dagga in die tronk rook.

Macnab het getuig dat sy vir haar verslag ook met Marcel se hoërskoolonderwysers gepraat het.

Marcel Steyn Dinsdag in die hof. Foto: Simon Sonnekus

Marcel het gematrikuleer aan die Hoërskool Monument (Monnas) in Krugersdorp.

Volgens Macnab het al die onderwysers haar geloof vir haar goeie punte en gedrag by die skool.

Die een onderwyseres was egter in haar matriekjaar (2015) baie bekommerd toe Marcel, gewoonlik ’n negentigpersenter, se punte in Junie daardie jaar drasties geval het.

In dié jaar was Marcel betrokke by ’n onsuksesvolle poging tot moord. Die welgestelde egpaar Peter en Joan Meyer is ook ten aanskoue van Marcel wreed in hul huis in Krugersdorp vermoor.

Volgens Macnab het die onderwyseres Marcel uitgevra oor haar swakker punte, maar die tiener het net in trane uitgebars en nie verder gepraat nie. Sy het in dié tyd ook baie gewig verloor, bleek gelyk en skool misgeloop.

Die onderwyseres het toe vir Marinda gebel en gesê sy is bekommerd oor Marcel. Volgens Macnab het Marinda blykbaar baie afsydig geraak en gesê Marcel se punte is goed genoeg en dat die onderwyseres haar dinge verbeel.

Macnab het benadruk dat Marcel in ’n “wanfunksionele gesin” grootgeword het.

Sy het Marinda as beherend, dominerend en ’n onbetrokke ma beskryf wat haar kinders verwaarloos en hulle fisiek en emosioneel mishandel het. “Haar kinders was nie haar prioriteit nie,” het Macnab getuig.

Al hierdie faktore het ’n impak gehad op die jong Marcel wat op 14-jarige ouderdom al op haar eerste moordtoneel was. Volgens Macnab het sy alleen, bang en hulpeloos gevoel en gevoel sy kan nie uit haar situasie wegbreek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.