Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Marcel studeer en kry 6 onderskeidings in moordtyd

Marcel Steyn, die jongste beskuldigde in die elf sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoorde, het kliphard studeer en ses onderskeidings in matriek behaal terwyl die laaste moorde plaasgevind het. Sy was gefokus op haar studies en daarom nie betrokke by moord nie, is Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg gehoor.

Adv. Sharon Johnson, haar regsverteenwoordiger, het aangevoer dat Marcel (20) ontken dat sy enige kennis gedra het of betrokke was by enige van die moorde waarvan sy beskuldig word.

Marcel Steyn (20). Foto: Felix Dlangamandla

Le Roux Steyn (22), haar broer, veroordeelde lid van die Electus per Deus Christelike bediening en nou staatsgetuie, meen egter sy suster skiet spek.

Marcel se verweer is tydens kruisondervraging aan Le Roux gestel. Cecilia Steyn (37), volgens Le Roux die leier van die bediening, Zak Valentine (34) en Marcel word verhoor vir onder meer elf moorde.

Johnson het dit ook aan die hof gestel dat Marcel die bestaan van ’n bediening ontken en gesê dat “Electus per Deus” net ’n groep vriende was. Cecilia het vroeër by monde van haar regsverteenwoordiger adv. André Coetzer, dieselfde aangevoer.

Volgens Le Roux is Marcel sedert hul inhegtenisneming in 2016 verbied om met hom te praat. “Sy mag glo nie met my gepraat het nie, want ek is nie meer deel van die familie nie en ek sien nie ‘eye to eye’ met Cecilia nie,” het Le Roux getuig.

Hy het later gesê hy wou sy suster laat besef “sy word vir ’n gat gevat” omdat sy “alles glo wat Cecilia haar vertel”.

“My pa het ook met Marcel probeer praat. Hy’s nie kwaad vir haar nie. My pa gee om vir my suster - baie,” het Le Roux getuig. Volgens Le Roux het hy en sy suster ’n gesonde verhouding gehad.

Zak Valentine (34), Cecilia Steyn (37) en Marcel Steyn (20) sit Maandag saam in die beskuldigde bank in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Hy stem egter nie saam met sy suster se weergawe van die gebeure nie.

Volgens Johnson het Marcel uitgevind van die dood van Mikeila, Valentine se vrou, nadat Valentine haar gebel het en daarvan vertel het. Mikeila is volgens Le Roux vermoor omdat sy die groep wou verlaat.

“Sy sal getuig sy was besig om televisie te kyk,” het Johnson gesê.

“Sy sal ook getuig sy en Mikeila het ’n goeie verhouding gehad. Sy het by haar huis gekuier en soms selfs oorgeslaap. Toe sy hoor van Mikeila se dood was sy geskok, verward en hartseer. Mikeila is die eerste persoon wat sy persoonlik geken het wat dood is.”

Marcel ontken dat sy betrokke was by ander moorde waarin afsprake met die slagoffers gemaak is voordat hulle vermoor is. Sy ontken ook dat sy met elke afspraakmoord gestuur is om die PIN van slagoffers se kredietkaarte te gaan toets, voordat hulle vermoor is.

Volgens Johnson het Marcel se matriekeksamen voorkeur geniet. “Sy was daarop gefokus, daarom het sy ses onderskeidings gekry.”

Op Johnson se vraag hoe Le Roux voel oor sy ma, Marinda (52), het hy gesê: “Ek voel jammer vir my ma.” Marinda is 11 lewenslange vonnisse plus 115 jaar opgelê vir haar aandeel in die elf moorde wat sedert 2012 gepleeg is. Volgens Le Roux praat hy al sedert sy inhegtenisneming nie met sy ma nie. “Hulle het my blameer vir hulle arrestasies. Sy het vir my gesê ek is niks,” het Le Roux getuig.

Vir Cecilia het hy net woede. “Ek is kwaad dat sy my familie vir ’n ‘ride’ gevat het. Die woord wat ek eintlik wil gebruik is te sterk vir die hof.”

“Haat jy haar?” het Johnson gevra. “Haat? Haat is ’n sterk woord, maar ja,” het Le Roux getuig.

Die saak duur voort.

Meer oor:  Marcel Steyn  |  Afspraakmoorde  |  Studeer  |  Onderskeidings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.