Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Marikana: Polisielede se verhoor uitgestel weens videomateriaal

Die saak teen genl. Mzondase Mpembe, voormalige adjunk-polisiekommissaris in Noordwes, en vyf ander polisielede weens die Marikana-slagting in 2012 gaan Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho voort.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Noordwes, is drie getuies reeds geroep sedert die verhoor op 13 Oktober begin het. “Die ses verdagtes word aangekla van die moord op vyf mense op 13 Augustus 2012 nadat werkers by die Lonminmyn (in die Rustenburgomgewing) gestaak het.”

Die staat is nou nog besig om sy saak te voer. Die drie getuies wat hy reeds geroep het, sluit in ’n kundige in die polisie oor misdaadtonele, ’n kringtelevisie-operateur van Lonmin en ’n polisie-videograaf. Hulle het getuig oor foto’s en video’s van die gebeure soos dit die dag van die voorval ontvou het.

Die lyk van Mafolisi Mabiya van die Msikiti-nedersetting buite Dutywa in die Oos-Kaap, word in 2012 na sy huis gedra. Mabiya was een van die mynwerkers wat in die Marikana-slagting dood is. Foto: Felix Dlangamandla

“Toe die videograaf van die polisie gekruisondervra is, het die verdediging kommer uitgespreek oor videomateriaal wat die SABC op 13 Oktober 2020 uitgesaai het,” sê Mamothame in ’n mediaverklaring. “Daarin kon van die gebeure op 13 Augustus 2012 gesien word. Die verdediging wou duidelikheid hê of die staat van voorneme is om ander videomateriaal wat nog nie verklaar is nie, as bewyse tydens die verhoor in te dien.”

Volgens Mamothame het die staat aangedui hy het reeds alle materiaal wat hy beoog om as bewyse tydens die verhoor in te dien, verklaar. Die staat het ook gesê hy het tydens die ondersoek ’n dagvaarding aan die SABC beteken om videomateriaal van die gebeure te verskaf.

Dié bewyse is egter nooit ingedien nie omdat die uitsaaier glo gesê het ander beeldmateriaal is bo-oor daardie beeldmateriaal opgeneem. “Die hof het die staat gevra om ’n afskrif van die dagvaarding aan die verdediging te verskaf,” sê Mamothame.

Ná die SABC-nuusinsetsel vandeesweek van die beeldmateriaal, het die staat egter begin met die proses om ’n tweede dagvaarding vir die uitsaaier uit te reik om die beeldmateriaal te verskaf wat die uitsaaier aanvanklik beweer het beskadig is.

Mamothame sê samesprekings tussen die staat en die SABC se regspan het nou begin om die beeldmateriaal so gou as moontlik te verskaf omdat dit sal help om waardevolle bewyse in die saak te verskaf. Indien die beeldmateriaal nie eerskomende Maandag beskikbaar is nie, sal die staat ander getuies roep totdat die beeldmateriaal wel beskikbaar is.

Meer oor:  Polisie  |  Videomateriaal  |  Marikana  |  Marikana-Slagting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.