Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Marinda het ook haar eie kinders se lewe verwoes’

Die vonnis is opgelê. Die hof verdaag en Marinda Steyn is op pad na die hofselle. Uit die hofgalery vra familielede van haar slagoffers of sy berou het. Sy kyk hulle stip in die oë en sê: “Nee!”

Steyn is Woensdagoggend in die hooggeregshof tot 11 keer lewenslange gevangenisstraf en nog 115 jaar gevonnis vir haar aandeel in die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoorde.

Sy het skuld beken op 25 aanklagte teen haar, wat nege moorde, sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede, bedrog, rampokkery en regsverydeling insluit.

Marinda Steyn (51)Foto: Felix Dlangamandla

“ ’n Mens maak sekere besluite en moet die gevolge daarvan aanvaar,” het sy aan regter Colin Lamont gesê voordat hy haar lewenslank tronk toe gestuur het.

Haar seun, Le Roux (22), het kort voor haar op 21 klagte skuld beken. Hy is tot 35 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan tien jaar opgeskort is vir vyf jaar. Hy sit dus 25 jaar agter tralies en sal as ’n staatsgetuie optree.

Die twee het saam met die vermeende baasbrein, Cecilia Steyn (36), Zak Valentine (32) en Marinda se dogter, Marcel Steyn (19), verskyn op aanklagte wat verband hou met 11 moorde sedert 2012 tot 2016. Die ander drie se verhoor gaan op 8 Oktober voort.

Op Lamont se vraag of Marinda deur die klagte gelees het en verstaan waarop sy alles skuldig pleit, het sy geantwoord: “Ja, u Edele, dit het ’n lang tyd geneem om daardeur te lees . . .”

Juanette Mc Alpine, die ma van Kevin Mc Alpine (29), een van die 11 slagoffers, reken Le Roux het heeltemal te lig daarvan afgekom. Sy is egter tevrede met Marinda se vonnis.

Luidens die akte van beskuldiging was Kevin, ’n makelaar, op 26 Mei 2016 onder die indruk dat hy voornemende kliënte in Krugersdorp gaan ontmoet.

Le Roux Steyn (22)Foto: Felix Dlangamandla

Marinda, Le Roux, Marcel en John Barnard (’n sesde beskuldigde wat in 2016 reeds gevonnis is) het hom volgens die staat ingewag.

Marinda het ’n vuurwapen op Kevin gerig en hom gedwing om sy PIN's en bankkaarte aan hulle te gee. Hy is toe verwurg. Die beskuldigdes het glo R1 300 uit sy vrou se bankrekening getrek.

Sy pa, Chris (54), het Kevin se lyk later die aand in die kattebak van sy silwer BMW in Krugersdorp gekry.

“Sy (Marinda) toon geen berou nie!” het Chris buite die hof gesê. Dis hoekom ons netnou (tydens vonnisoplegging) uitgeloop het. Ek sal haar gooi met enigiets wat naby is, maar ek wou nie nog ’n selfoon ook verloor nie . . .”

Lorna Allen, die suster van Glen McGregor (57), wat in Januarie 2016 vermoor is, sê die familie “is deur hel”. “Marinda se reaksie is skokkend,” sê Lorna.

Glen, ’n belastingadviseur, was op 27 Januarie 2016 onder die indruk dat Le Roux, Marinda, Marcel en John Barnard belastingadvies nodig het.

Die beskuldigdes met ’n vorige hofverskyning. Van links is Zak Valentine, Le Roux Steyn, Marinda Steyn, Cecilia Steyn en Marcel Steyn.Foto: Felix Dlangamandla

Luidens die akte van beskuldiging het hulle McGregor egter in die maag geskiet en hom gedwing om sy wagwoord en PIN van sy bankrekening te verskaf, waarna R6 000 aan Marinda oorbetaal is. Hy is ook verwurg.

Glen se as is reeds in Skotland, sy geboorteland, waar die familie formeel van hom sal afskeid neem as die verhoor eers afgehandel is, sê Lorna.

“Hy sou 60 word op 10 Mei. Ons wou sy lewe vier, nie oor sy dood nadink nie.”

Sy is verder “baie jammer vir Le Roux”.

“Sy ma het nie net ons lewe verwoes nie, maar ook hulle (Le Roux en sy suster, Marcel) s’n.”

Nog ’n familielid van Glen, Yvonne van Schalkwyk, meen Marinda, wat voorheen ’n onderwyseres was, “kan nou geen kinders se lewe meer verwoes nie”.

Die afspraakmoorde het glo begin met ’n vete tussen Cecilia en Ria Grunewald, stigter van die groep Overcomers Through Christ. Cecilia het haar glo daarby aangesluit omdat sy wou hê hulle moes haar van Satanisme verlos, lui die akte van beskuldiging.

Die verhouding tussen Cecilia en Grunewald het egter versuur.

“Pleks daarvan dat (Cecilia) haar weerwraak op Grunewald geneem het, het sy besluit om verskeie onwettige en misdadige aanvalle op lede van Overcomers Through Christ en/of vriende na aan Grunewald te loods,” lui die akte.

Die aanklagte waarop Marinda Steyn skuld beken het, en haar vonnis daarvoor, is as volg:

  • Lewenslange vonnisse vir moord op elk van die volgende mense: Rex Bendixen, Mikeila Valentine, Peter en Joan Meyer, Jarod Jackson, Glen McGregor, Anthony Scholefield, Kevin Mc Alpine, en Hanlie Lategan.
  • Lewenslange vonnis vir rampokkery.
  • Lewenslange gevangenisstraf vir die bestuur van ’n misdadige onderneming soos omskryf in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
  • 15 jaar tronkstraf op elkeen van vyf aanklagte van roof en roof met verswarende omstandighede.
  • Vyf jaar tronkstraf op twee aanklagte van sameswering tot die pleeg van moord op Natacha Burger en Joyce Boonzaier.
  • Een jaar gevangenisstraf op elkeen van die drie aanklagte van bedrog wat verband hou met identiteitsdiefstal.
  • Een jaar gevangenisstraf vir regsverydeling.
  • Vyftien jaar tronkstraf vir bedrog.
  • Agt jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ’n vuurwapen.
  • Drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.
Le Roux Steyn is soos volg gevonnis op die aanklagte waarop hy skuld beken het:

  • Lewenslange gevangenisstraf vir elk van die volgende sewe moorde: Anthony Scholefield, Kevin Mc Alpine, Hanlie Lategan, Peter en Joan Meyer, Jarod Jackson, en Glen McGregor.
  • Vyftien jaar tronkstraf op elk van vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede.
  • Een jaar op elk van drie aanklagte van rampokkery.
  • 15 jaar vir sameswering tot moord.
  • 15 jaar vir bedrog.
  • Drie jaar vir kredietkaartbedrog.
  • Een jaar vir regsverydeling.
  • Agt jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen.
  • Drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Meer oor:  Zak Valentine  |  Cecilia Steyn  |  Marinda Steyn  |  Le Roux Steyn  |  Marcel Steyn  |  Krugersdorp  |  Hof  |  Vonnisoplegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.