Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Marli van Breda waarskynlik nie as getuie geroep

Marli van Breda kan niks van die aand onthou toe haar ouers en broer met ’n byl doodgekap is nie. Dus sal sy waarskynlik nie geroep word om te getuig in die saak waarin haar enigste oorlewende gesinslid, Henri van Breda, van dié moorde aangekla word nie.

Sers. Marlon Appollis, hoofondersoekbeampte in die Van Breda-moordverhoor. Foto: Lulama Zenzile

Dit blyk uit sers. Marlon Appollis, die hoofondersoekbeampte in die Van Breda-saak, se getuienis in die hooggeregshof in Kaapstad.

Appollis is Woensdag as die 26ste getuie in die driedubbele moordverhoor geroep.

Hy was nie die aanvanklike ondersoekbeampte in die saak nie, maar het dié titel geërf toe speurkonst. Zuko Matho oorlede is.

Appollis was die dag van die voorval daarvoor verantwoordelik om by Marli te bly, vandat sy in die Mediclinic Stellenbosch opgeneem en na die Mediclinic Vergelegen oorgeplaas is.

Hy het verder alle selfoonrekords bekom, asook die dossier geliasseer.

Appollis het bevestig alle inligting wat Henri oor die aanvaller verskaf het, is ondersoek.

Botha het Appollis gevra hoe dit moontlik was dat hulle na iemand kon soek met die beskrywing wat Henri gegee het.

Appollis het gesê hulle het hul informante en ook verskeie ander bronne genader om inligting rakende die beweerde aanvaller te bekom. Hulle het Jamestown, wat oorkant die De Zalze-landgoed is, besoek om moontlike verdagtes daar te soek. Hulle het niemand gevind wat by die beskrywing pas nie.

Hy het ook gesê hulle het James Reade-Jahn, in daardie stadium Marli se kêrel, ondersoek omdat daar ’n dreigende SMS-boodskap op sy foon gevind is. In die boodskap dreig Reade-Jahn om Marli se ouers te vermoor.

Dié boodskap was in reaksie op ’n SMS-boodskap wat Marli aan hom gestuur het waarin sy gesê het sy was in ’n bakleiery met haar ouers betrokke.

Regter Siraj Desai het Appollis gevra oor die moontlikheid van twee byle.

Hy het geantwoord daar is net een mens en een byl op die toneel gevind. “As daar nog ’n byl was, sou ons dit gekry het,” het hy getuig.

Henri van Breda staar stip voor hom uit met sy advokate wat voor hom sit. Advv. Matthys Combrink (links) en Pieter Botha.Foto: Lulama Zenzile

Adv. Pieter Botha, vir Henri, het Appollis egter aan Reade-Jahn herinner, dat hy ’n byl met ’n swart kop in die huis gesien het en die byl in die hof nie herken het nie.

Appollis het gesê die bloed op die byl het dit donkerder laat lyk, maar ook bygevoeg die huiswerker het die byl in die hof uitgeken as ’n soortgelyke een as wat sy in die Van Breda-huis gesien het.

Appollis het getuig Marli was geruime tyd in ’n koma en dat hy nie self ’n onderhoud met haar gedoen het nie.

Botha het hom gevra of hy weet Marli het wel ’n verklaring afgelê en dat dit deel van die dossier is.

Appollis het toegegee hy weet van die verklaring, en die inhoud daarvan is dat Marli sê sy kan niks van die voorval onthou nie.

Die saak is tot Maandag uitgestel wanneer die staat se laaste getuie, kapt. Marius Joubert, ’n bloedspatselkenner, sal getuig.

Meer oor:  Marli Van Breda  |  Henri Van Breda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.