Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Masuku se aansoek teen verslag oor PPE-tenders misluk

David Makhura, Gautengse premier, was nie verplig om dr. Bandile Masuku, voormalige LUR vir gesondheid, ingevolge ’n verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) te skors nie.

So lui ’n uitspraak deur die hooggeregshof in Pretoria wat Maandag deur ’n volbank regters gelewer is.

Masuku se aansoek om die tussentydse verslag van die SOE tersyde te laat stel, is met koste van die hand gewys.

Dr. Bandile Masuku

Makhura het Masuku in Oktober geskors nadat hy die verslag ontvang het. Daarin sê die SOE Masuku het sy pligte as “politieke hoof” van die gesondheidsdepartement versuim rakende die beweerde tender-ongerymdhede.

Die SOE het aanbeveel dat Makhura “administratief” teen Masuku optree.

Die verslag is uitgereik as deel van die SOE se ondersoek na bewerings van onreëlmatighede en korrupsie in die aankoopproses van persoonlike beskermende toerusting (PPE) deur die Gautengse departement van gesondheid verlede jaar.

’n Volbank regters – Roland Sutherland, Joseph Raulinga en Thina Siwendu – het in die uitspraak gesê die SOE se verslag is rasioneel en skryf nie vir Makhura voor dat hy siviele of strafregtelike stappe moet doen nie.

“Die premier is dus nie opdrag gegee om iets te doen nie. ’n Mening is gedeel dat daar ’n voorlopige saak is op grond van ’n versuiming van pligte.”

Luidens die uitspraak is dit Makhura se keuse om LUR’s te verwyder. Die hof het nie ’n oordeel gevel of Makhura na behore opgetree het deur Masuku te skors nie.

Die premier is dus nie opdrag gegee om iets te doen nie. ’n Mening is gedeel dat daar ’n voorlopige saak is op grond van ’n versuiming van pligte.

Die saak spruit uit die optrede van twee amptenare van die departement, Kabelo Lehloenya, voormalige hoof van finansies, en Thandiwe Pino, voormalige hoof van verkryging, wat in April 2020 beweerde onwettige kontrakte gesluit het.

Die kontrakte is onder meer toegeken aan Royal Bhaca Projects, wat behoort het aan wyle Thandisiwe Diko, man van Khuselo Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa. Diko is intussen op spesiale verlof geplaas.

Volgens die SOE is Masuku minstens in ’n mate van die beweerde onreëlmatighede bewus gemaak, waarna hy die hulp van ouditeurs ingeroep het.

Luidens die uitspraak van die hooggeregshof was Masuku se optrede laks, en sy argument dat hy nie te nou by die aankopeproses betrokke wou raak nie, hou nie steek nie.

“Toe die nuus oor ongerymdhede onder sy aandag gebring is, was hy tevrede daarmee om die ondersoek aan interne ouditeure oor te gee en om geen stappe te doen om homself van die vordering te vergewis nie.”

Voorts was Masuku in die “aangesig van die grootse openbare gesondheidsrisiko in ’n eeu” so “blind” vir die duidelike gebreke in die stelsel vir aankope deur die Gautengse gesondheidsdepartement dat hy geen behoorlike stappe gedoen het om dit te takel nie, lui die uitspraak.

Die volbank regters het ook bevind die SOE het wel vir Masuku ’n regverdige kans gegee om sy kant van die saak te stel voordat hy sy verslag voltooi het.

Die regsfirma Motalane het namens Masuku in ’n verklaring gesê hy verwelkom die gevolgtrekking van die hof waarin dit duidelik blyk dat die SOE Masuku nie van “nepotisme of misdadigheid” beskuldig het nie.

“Die uitspraak ruim enige twyfel vir die publiek uit die weg dat dr. Masuku betrokke was by enige PPE-verkryging of dat hy geldelik voordeel daaruit getrek het.”

Hy verwelkom ook die siening van die hof dat die “bevindings” van die SOE “slegs menings is, wat die premier nie op moes gesteun het om enige vorm van besluit teen hom (Masuku) te geneem het nie”.

Volgens Motalane sal die uitspraak bestudeer word voordat verdere kommentaar gelewer word.

Meer oor:  Dr. Bandile Masuku  |  David Makhura  |  Bedrog  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.