Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Matie glo ook verkrag
Hannah Cornelius Foto: Facebook

Die saak teen twee van Hannah Cornelius (21) se vermeende moordenaars is Maandag in die landdroshof in Stellenbosch tot 28 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.

Luidens die klagstaat het Vernon Witbooi (32) en Geraldo Parsons (26) vir Cornelius ook na bewering verkrag voordat hulle haar vermoor het.

Die twee staan albei op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, motordiefstal, verkragting en ontvoering tereg. Nog aanklagte kan later bygevoeg word.

Landdros Greg Jacobs het gelas dat geen foto’s van Witbooi en Parsons in die media gepubliseer word totdat ’n uitkenningsparade gehou kan word nie.

Lecardo Davids, die staatsaanklaer, het genoem dat die twee op skedule-ses-misdrywe teregstaan. Hy het gesê dat hulle om regshulp aansoek gedoen het.

Die twee het ook aangedui dat hulle vir nou nie om borgtog aansoek gaan doen nie.

Jacobs het gesê hulle moet besef dis ernstige aanklagte en sou hulle ’n borgtogaansoek bring, die onus op hulle rus om aan die hof te toon dat daar buitengewone omstandighede is oor hoekom hulle op borgtog vrygelaat moet word. Hulle sal ook aan die hof moet bewys dat dit in belang van geregtigheid is om hulle op borgtog vry te laat.

Cheslin Marsch

Cornelius en ’n vriend, Cheslin Marsh, is Saterdagoggend deur vermoedelik vier mans gekaap waar hulle in Birdstraat, Stellenbosch, in haar blou CitiGolf gesit het.

Cornelius en Marsh is albei studente aan die Universiteit Stellenbosch.

Cornelius se lyk is Saterdagoggend naby ’n plaas langs die Knorhoekpad buite Stellenbosch gevind. Sy is vermoedelik verkrag, met ’n skerp voorwerp gesteek en doodgewurg.

Marsh is glo vroeër in die kattebak van die motor ingedwing. In Kraaifontein het die vermeende kapers, waaronder Witbooi en Parsons, Marsh glo met klippe teen die kop gekap.

Witbooi en Parsons is Saterdag omstreeks 14:00 ná ’n jaagtog met die polisie by die plaas Dwars-in-die-weg in Devonvallei, Stellenbosch, in hegtenis geneem.

Marsh se linkervoorarm is gebreek en hy het glo ook kopbeserings opgedoen. Hy sterk tans in ’n hospitaal in Kaapstad aan.

Meer oor:  Cheslin Marsh  |  Geraldo Parsons  |  Vernon Witbooi  |  Stellenbosch  |  Hannah Cornelius  |  Verkrag  |  Hof  |  Matie  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.