Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Matriekseun in hof ná spoegery by skool
Kevin van Wyk, ’n 19-jarige matriekleerling, stap saam met ondersteuners weg nadat hy in die Pretoria-Noordse landdroshof verskyn het op ’n aanklag van crimen injuria. Foto: Deaan Vivier

’n Matriekleerling van Pretoria is Vrydag op ’n aanklag van crimen injuria in hegtenis geneem nadat hy glo ’n skoonmaker by die Hoërskool Montana in die gesig gespoeg het.

Kevin van Wyk (19) het na bewering sy neus geblaas en toe die gebruikte sneesdoekie voor die skoonmaker gegooi met die woorde: “Swart man, tel op”.

Toe hy daaroor deur skoolpersoneel aangespreek is, het hy glo na die skoonmaker teruggegaan en hom in die gesig gespoeg.

Van Wyk was reeds voorheen in die moeilikheid weens botsings met reëls en dissipline en was blykbaar vroeër ook geskors.

“Ons weet van ’n voorval Vrydag. Kevin het by twee (vorige) geleenthede dissiplinêre oortredings gehad,” sê Johan Kruger, voorsitter van die skool se beheerliggaam, op navraag.

“Hy is deur die departement teruggeplaas in die skool op ’n opgeskorte uitsetting.

“Vrydag se voorval was van so ’n aard dat die skoolhoof besluit het om die polisie te betrek. Die saak is van toe af in die polisie se hande”.

Kruger wou nie uitbrei oor Van Wyk se twee vorige dissiplinêre oortredings nie.

Die matriekleerling is in hegtenis geneem nadat die skoonmaker, Brian Silindi Zindoga, ’n strafregtelike klag by die polisie ingedien het. Dit is nie bekend of Van Wyk by die skool in hegtenis geneem is nie.

Kevin van Wyk (19) nadat hy op borgtog van R1 000 vrygelaat is.Foto: Deaan Vivier

Sy klere het Maandag effens verkreukeld gelyk van ure in die aanhoudingselle toe hy in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn het.

Craig Snyman, die aanklaer, het in die hof gesê die staat staan nie Van Wyk se vrylating op borgtog teen nie en die jong beskuldigde se adres is reeds bevestig.

“Die beweerde voorval het by die skool gebeur waar die beskuldigde ’n skolier is. Die klaer is ’n skoonmaker, ook by die skool,” het Snyman gesê.

Hy het ’n borgtog van R1 000 voorgestel en gevra dat die saak tot 28 Augustus uitgestel word vir verdere ondersoek.

Van Wyk het op verskeie vrae van landdros Motlhoki Rapulana gesê dit is die eerste keer dat hy in hegtenis geneem is.

Hy het geen hangende strafregtelike sake of vorige veroordelings teen hom nie en sal ’n private regsverteenwoordiger kry.

Van Wyk het ook geantwoord dat hy in gr. 12 in die Hoërskool Montana is en dat sy ouers sy borgtog sal betaal.

Rapulana het hierop gevra of sy vingerafdrukke geneem is en toe mooi verduidelik dat die polisie sy vingerafdrukke sal nagaan om seker te maak dat hy geen kriminele rekord of uitstaande sake het nie.

“So, ek vra weer: praat jy die waarheid?” het sy seker gemaak.

Van Wyk het bevestigend geantwoord en bygevoeg: “My rekordeksamen begin op 28 Augustus, is ’n ander datum (vir sy hofverskyning) dalk moontlik?”

Vrydag se voorval was van so ’n aard dat die skoolhoof besluit het om die polisie te betrek. Die saak is van toe af in die polisie se hande.

Die saak is toe tot einde September uitgestel.

Rapulana het sy borgtog van R1 000 toegestaan op voorwaarde dat Van Wyk geen direkte of indirekte kontak met die klaer het nie.

“U ken die klaer. Moenie met hom praat nie. Moenie mense stuur om met hom te praat nie. Bly weg van hom. As jy dié voorwaarde verbreek en met die klaer kontak maak, sal jy weer voor my in die hof gebring word en kan jou borgtog teruggetrek word,” het sy gewaarsku.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.