Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
McBride in hof om vir hernuwing van sy pos te veg

Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), veg Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria om sy dienskontrak te laat hernu.

McBride het ’n dringende aansoek ingedien om die besluit van Bheki Cele, minister van polisie, om nie sy aanstelling as uitvoerende direkteur van Opod te hernu nie as “ongrondwetlik, onregmatig en ongeldig” te laat verklaar.

McBride meen die aansoek is dringend, omdat sy vyfjaarkontrak teen 28 Februarie verstryk.

Cele het McBride op 24 Januarie in ’n brief ingelig dat hy die besluit om nie sy kontrak te hernu nie by die parlement vir oorweging gaan indien. Hy het nie redes vir sy besluit verstrek nie.

McBride voer aan die minister is nie by magte om dié besluit te neem nie, en ondermyn sodoende die onafhanklikheid (ook van politieke inmenging) wat Opod ingevolge die Grondwet geniet.

“Dit is belangrik om te besef dat baie van die sake wat Opod ondersoek polities hoogs sensitief is,” sê hy.

Robert McBride.
Robert McBride. Foto: Cornél van Heerden

“Dit sluit in sake van beweerde korrupsie in die polisie se hoogste vlakke, soos die voortgaande ondersoek van beweerde korrupsie na die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane.”

McBride sê daarom dat die minister, wat in die parlement vir die polisie pa-staan, “onvermydelik” polities in Opod-ondersoeke geïmpliseer word.

“Daar is ’n risiko van botsende belange tussen die minister en Opod, wat Opod se funksies betref.”

Volgens McBride behoort die portefeuljekomitee oor polisie die finale sê oor sy pos te hê – ’n mag wat hulle tot dusver nie kon uitoefen nie, omdat die minister hulle voorgespring het.

McBride vra die hof Dinsdag om die portefeuljekomitee opdrag te gee om die besluit om sy kontrak te hernu, al dan nie, voor 28 Februarie te maak.

Die minister hou op sy beurt vol die besluit is ’n professionele een en dat McBride geen reg het om aan te dring op nog ’n termyn, wanneer sy dienskontrak verstryk het nie.

Hy benadruk sy besluit is nié finaal nie. “Wanneer ’n direkteur se vyfjaartermyn sy einde nader, neem die minister ’n voorlopige besluit om (die kontrak) te hernu, al dan nie. Die minister se besluit, net soos die besluit om iemand vir die pos van Opod-direkteur te nomineer, is nié finaal nie. Dit is ’n voorlopige besluit wat na die portefeuljekomitee oor polisie verwys word, wat deur hulle (en uiteindelik die nasionale vergadering) goedgekeur of verwerp kan word.”

Cele sê hoewel McBride dit laat klink asof hy wat Cele is uit die bloute van hom laat hoor het, is dit eintlik McBride wat Cele al op 6 September 2018 genader en gevra het of die “ministerie” beplan om sy kontrak te hernu.

“Volgens McBride… wás dit die minister wat besluit oor die hernuwing van (’n tweede) termyn…”

“Opod sal nie sonder hom (McBride) tot stilstand kom nie. ’n Waarnemende direkteur sal heel goed vaar terwyl die parlement en die portefeuljekomitee besluit of hulle my voorlopige besluit goedkeur of nie,” skryf Cele in sy verklaring.

Cele ontken dat hy die portefeuljekomitee “verhinder” het om ’n besluit oor die hernuwing van McBride se kontrak te neem.

Hy het vroeër by monde van sy woordvoerder aan Netwerk24 gesê dat McBride welkom sal wees om aansoek te doen vir die pos indien dit wel vakant raak en geadverteer word.

Die Helen Suzman-stigting en die waghond, Corruption Watch, het as vriende van die hof toegetree.

Meer oor:  Robert Mcbride  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.