Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Meesterbrein wou geliefde in moordsaak uitverkoop, sê staat

Estelle Reddy, as die “meesterbrein” van die moord op Danie Dreyer (63), moes haar nuwe geliefde “uitverkoop” om haarself te red, sê die staat.

“Jy het die slagoffer gespeel terwyl jy die meesterbrein was,” het adv. Cornelia Harmzen, die aanklaer, Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria aan haar gesê.

Reddy word saam met Gerhard Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Furst aangekla van die moord op Dreyer, ’n afgetrede polisieman en ’n voormalige Springbok-stoeier, asook roof met verswarende omstandighede, regsverydeling, brandstigting en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Estelle Reddy staan saam met Gerhardus Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Furst in die hooggeregshof in Pretoria tereg op aanklag van moord op Danie Dreyer. Foto: Deaan Vivier

Reddy het voorheen ’n verhouding met Dreyer gehad, maar later weer by hom ingetrek, hoewel die verhouding toe platonies was. Sy het gehelp met die administrasie van sy onderneming, Jakaranda Grafstene.

Volgens Reddy het haar drie medebeskuldigdes Dreyer in Maart 2016 vermoor en het Papenfus, vir wie sy glo bang was, haar gedwing om te help om die lyk eers onder die oorledene se bed te versteek en later in ’n mangat te gooi. Hulle het ook die kamer aan die brand gesteek om bewysstukke te vernietig.

Harmzen het vroeër uitgewys Reddy het in die week ná die moord verskeie geleenthede gehad om dit by die polisie aan te meld.

Reddy het Vrydag herhaal dat sy wel later na die polisie toe is. Sy het die dag gekies wat mense die gebrande kamer sou kom skoonmaak, omdat sy geweet het dat dit ’n ruk sou neem en sy die kans kon gebruik om weg te kom.

Die aanklaer het uitgewys dat Dreyer se seun ook daardie dag by die oorledene se huis was, op soek na sy pa. Hy wou sy pa as vermis gaan aanmeld.

“Jy het geweet jy moet voor hom by die polisie uitkom sodat jy die slagoffer kan speel. Jy het toegang tot mnr. Dreyer se bankrekeninge gehad. Jy moes vir Papenfus help om boedelbedrog te pleeg. Jy het mnr. Dreyer se geliefdes mislei met stories dat hy in die Bosveld is.

“Die probleem was dat as mnr. Dreyer as vermis aangemeld word, die polisie sou agterkom dat sy bankkaarte intussen regoor Pretoria gebruik is.

“Sy boedel sou bevries word, terwyl jy gedink het jy is geregtig op die helfte daarvan. Jy moes jou nuwe geliefde uitverkoop om jouself te red,” het die aanklaer aangevoer.

Reddy het dit ontken.

Papenfus het ná haar getuig. Een van sy eerste stellings was: “Ag, die goed wat Estelle getuig het, is nonsens.”

Hy het haar in Februarie 2016 leer ken. Volgens hom het sy ’n ooreenkoms met Dreyer gehad dat hy vir haar die helfte van Jakaranda Grafstene sou gee.

Op 27 Maart 2016 moes Reddy na ’n verlowingspartytjie in Laudium gaan. Dreyer het gesê sy moet met sy Toyota Fortuner ry.

“Estelle het my gebel en gevra dat ek haar gaan aflaai en die Fortuner by my hou, want dit sou veiliger by my wees. Op pad soontoe het sy onthou dat sy nie die troeteldiere by Danie se huis kos gegee het nie.

Mediese behandeling

Die saak is uitgestel sodat Furst mediese behandeling kan kry. Hy het glo vier beroertes tydens sy aanhouding gehad en die verhoor is voorheen ook uitgestel ná die laaste beroerte.

Sedertien loop Furst so moeilik dat Papenfus hom by die trappe van die aanhoudingsel na die beskuldigdebank ophelp en Johnson hom by tye op sy rug dra.

Hy praat moeilik en kan nie die verhoor lank volg nie.

Regter Bert Bam het Vrydag beveel dat Furst oor die naweek ’n dokter moet sien.

“Die dokter moet ook ’n mediese sertifikaat uitreik dat ons weet wat die probleem is,” het Bam gelas.

* Al vier beskuldigdes is in aanhouding.

“Kevin en Ruvan (wat saamgery het) het gesê hulle sal dit later gaan doen en Estelle het vir hulle ’n sleutel gegee.”

Volgens Papenfus het die mans egter eers die Maandag, nadat hulle dwelms in Eersterust gaan koop het, onthou van die diere, en is toe na Dreyer se huis.

“Ruvan-hulle het by die agterdeur ingegaan om die hondekos te kry.

“Ek het mense binne hoor praat. Dit het geklink soos ’n skellery. Ek het by die agterdeur ingekyk en gesien Danie lê op die vloer.”

Furst het glo aan Papenfus gesê Dreyer het op hulle afgekom en vir Johnson gesê: “K****r, wat soek jy in my huis!”

En toe sak Dreyer na bewering in mekaar.

“Ek het gedink hy het ’n hartaanval gehad. Ek het mond-tot-mond-asemhaling op hom gedoen. Ek het gepanic. Ek het lank aangehou, maar hy was dood,” het Papenfus getuig.

Volgens hom het die drie mans later vir Reddy in Laudium gaan oplaai en hy het vir haar gesê Dreyer is dood.

“Ons het ooreengekom om sy lyk toe te draai en in die basis van sy bed te sit, sodat Estelle nie uit die huis gegooi word nie. Dit was net ’n tydelike plan totdat sy blyplek vir haar en haar kind kon kry,” het Papenfus getuig.

Die saak gaan Maandag voort.


Meer oor:  Gerhard Papenfus  |  Kevin Johnson  |  Estelle Reddy  |  Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.