Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Menlyn Maine: Man nie in hof oor hoë risiko vir Covid-19

Die saak teen Carlo Arendse (45), ’n sakeman wat einde verlede jaar na bewering ’n “skuldinvorderaar” op die parkeerterrein van ’n Pretoriase winkelsentrum doodgeskiet het, is Vrydag in sy afwesigheid uitgestel.

Weens redes wat met die nasionale inperking en Covid-19-pandemie verband hou, kon die saak in die landdroshof in Pretoria nie hervat word nie.

Sy regsverteenwoordiger, Devin Moodley, het reeds vroeër die week ’n brief gestuur aan die hof om die situasie te verduidelik, en die staatsaanklaer het dit Donderdag by die hof ingedien is.

Hiervolgens is die regspan afkomstig van Durban en kon hulle weens die inperking en die verbod op interprovinsiale reise nie Vrydag in Pretoria vir die hofsaak wees nie.

In die brief word ook gemeld dat Arendse ’n “hoërisko-geval” vir die koronavirus is omdat hy aan verskeie chroniese siektes ly.

Carlo Arendse toe hy in Desember in die landdroshof in Pretoria verskyn het. Foto: Deaan Vivier

Die hof het ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik, wat tot sy volgende hofdatum oorgehou sal word.

Arendse is destyds in hegtenis geneem op ’n klag van moord nadat JB Strydom (44) op 2 Desember 2019 doodgeskiet is. Hy is een keer geskiet.

Hy word ook aangekla van die rig van ’n vuurwapen op Dino de Sousa, wat die betrokke dag saam met Strydom was.

Dit blyk dat Arendse sal aanvoer dat hy in selfverdediging opgetree het om hom en/of sy werknemer te beskerm teen Strydom toe hy hom en sy gesin glo die dag op die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum in Pretoria voorgekeer het.

Nie die staat of die ondersoekbeampte het destyds Arendse se aansoek om borgtog teengestaan nie, onder meer omdat hy nie as ’n vlugrisiko beskou word nie, daar nie toe aangevoer kon word dat hy Strydom met voorbedagte rade geskiet het of hom by die ondersoek kan inmeng nie.

A.o. Peter Maharela, die ondersoekbeampte, het ter stawing hiervan in ’n verklaring aan die hof verduidelik dat Arendse en De Sousa voor die voorval ’n ooreenkoms aangegaan het waar De Sousa geld en ’n voertuig by Arendse geleen het.

Luidens Maharela se verklaring het De Sousa agterstallig met van die terugbetalings geraak.

Arendse het ’n saak van die onregmatige gebruik van ’n voertuig teen De Sousa by die polisie aanhangig gemaak en die voertuig is teruggeneem.

“De Sousa was ontsteld hieroor. Hy het Ricardo Berto en die oorledene (Strydom) op die dag van die voorval met hom saamgeneem. Hulle het die beskuldigde, wat saam met sy gesin en motorbestuurder by Menlyn Maine was, genader.

“Daar was ’n argument tussen De Sousa en die beskuldigde oor die voertuig wat teruggeneem is. Die oorledene (Strydom) het by die argument betrokke geraak,” lui die polisieverklaring.

Dit blyk dat Arendse en Strydom handgemeen geraak het en dat die beskuldigde se motorbestuurder hom te hulp gesnel het.

Luidens die ondersoekbeampte se verklaring het Arendse ’n skoot op Strydom afgevuur en die wapen op De Sousa gerig.

Maharela het bygevoeg dat hy ná Arendse se inhegtenisneming gesien het dat hy ’n toegeswelde oog en kneusmerke op sy arms het.

Die motorbestuurder het ook (in daardie stadium onder die indruk dat Strydom nog leef) ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen Strydom ingedien.

Arendse is tans op borgtog van R8 000.

Meer oor:  Carlo Arendse  |  Saak  |  Uitgestel  |  Pandemie  |  Sakeman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.