Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mesmoord: Leerling se ma snik aaneen by hof

Die 47-jarige ma van die leerling wat Maandagmiddag by die Forest High School in die suide van Johannesburg na bewering deur ’n ander leerling met ’n mes doodgesteek is, het Woensdag ontroosbaar by die landdroshof in Johannesburg gehuil.

“Ek is nie wel nie. Ek het hof toe gekom vir my seun,” het Kingombe-Antoinette Mabiala deur die trane wat oor haar wange rol gesê voordat haar seun, Daniel Bakwena (16), se 19-jarige vermeende moordenaar in die beskuldigdebank gaan staan het.

Die 47-jarige Kingombe-Antoinette Mabiala, ma van Daniel Bakwena, die leerling wat Maandagmiddag by die Forest High School in die suide van Johannesburg met ’n mes doodgesteek is.Foto: Werner Beukes

Die jong man van Kongolese afkoms mag nie geïdentifiseer word nie omdat ’n uitkenningsparade nog gehou moet word. Hy het ongemaklik in die beskuldigdebank rondgeskuif en op ’n vraag van landdros Carlo Labuschagne oor sy taalvoorkeur, geantwoord: “Ja, meneer, ek verstaan Engels.”

Labuschagne het aan hom verduidelik dat hy deur ’n aanklag van moord en twee aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar word, waarop hy net stadig sy kop geknik het.

Die saak is tot Donderdag uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek.

“Ek is nie wel nie, ek is nie wel nie,” het Mabiala herhaaldelik gesê waar sy buite die hof deur ’n groep vriende en familielede ondersteun is.Foto: Werner Beukes

Mabiala het aan joernaliste by die hof gesê sy sukkel om haar seun se dood te verwerk. “Ek is nie wel nie, ek is nie wel nie,” het sy herhaaldelik gemompel waar sy deur ’n groep vriende en familielede ondersteun is.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het ook die hofverrigtinge bygewoon en aan Netwerk24 gesê die skool se leerlinge ontvang berading. “Ons gaan die hofsaak volg en deurlopende ondersteuning aan almal gee wat deur hierdie skokkende voorval geraak is.”

Die 19-jarige leerling is binne ure nadat hy sy drie medeleerlinge na bewering met ’n mes aangeval het, in Dobsonville in Soweto in hegtenis geneem.

Die 16-jarige Bakwena is op die toneel dood. Die twee ander leerlinge wat ook steekwonde opgedoen het, is na ’n hospitaal gehaas. Een van hulle is intussen ontslaan en was Woensdag ook by die hof.

Volgens die Johannesburgse dagblad The Star staan Forest High School ook bekend as Forest High Correctional Services weens die kultuur van misdadigheid en bendebedrywighede by die skool.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het die eksamens by die skool tydelik opgeskort ná die voorval.

Meer oor:  Forest High School  |  Misdaad  |  Onderwys  |  Hofverskyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.