Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Meter-firma moet raad terugbetaal

Die hooggeregshof in Johannesburg het vir die Emfuleni- plaaslike owerheid tydelik geldelike verligting gebring toe hy ’n Chinese maatskappy wat vroeër vanjaar op sy bankrekening beslag gelê het, beveel het om dit terug te besorg.

Regter Herman Barnardt het Beijing Fuxing Xioa-Cheng Electronic Technology Stock Company JTD JVOLE Power Systems (BXC-SA) beveel om Emfuleni se bankrekening en alle geld wat daaruit getrek is, terug te gee.

Die plaaslike owerheid het verlede maand ’n dringende aansoek by die hooggeregshof ingedien nadat BXC-SA in September vanjaar ’n hofbevel verkry het om op Emfuleni se bates en bankrekening beslag te lê weens beweerde kontrakbreuk.

In 2013 het Sam Shabalala, toe die munisipale bestuurder, ’n kontrak met BXC-SA gesluit om gevorderde krag- en watermeters in onder meer Vanderbijlpark, Vereeniging, Sharpeville, Boi­patong en Bophelong te installeer.

Luidens hofstukke wou Emfuleni “seker maak” inwoners betaal vir krag en water en dat lesings “akkuraat” is en diensgeld sonder moeite ingevorder sou word.

Die waarde van die kontrak is geraam op R1 098 miljard en Moneyweb het vroeër berig die projek sou in Februarie 2014 begin en tien jaar duur.

Luidens die ooreenkoms sou dit op kontrakbreuk neerkom as Emfuleni vir 30 dae met R2 miljoen agterstallig raak.

BXC-SA het eers in September 2015 begin om die meters te installeer. Teen 2017 het BXC-SA 7 525 geïnstalleer.

BXC-SA het daarna 23 maandelikse rekeninge vir die werk aan Emfuleni gestuur, maar die plaaslike owerheid het nie een daarvan betaal nie.

In September het waarne­mende regter Anthony Millar gelas­ Emfuleni skuld BXC-SA R492 145 879 vir die werk wat hy reeds gedoen het.

Millar het ook beveel Emfuleni moet 10% per jaar op die agterstallige skuld betaal.

Dit kom neer op rente van R134 834,49 per dag.

Emfuleni het nie die hofbevel teengestaan nie en sy regsverteenwoordigers het na verneem word ook nie in September by die hof opgedaag nie.

BXC-SA het daarna op Emfuleni se bankrekening en verskeie bates beslag gelê.

Emfuleni is tans in ’n hofstryd met BXC-SA gewikkel om die ooreenkoms wat tussen Shabalala en BXC-SA gesluit is, tersyde te laat stel omdat dit glo onder meer ongrondwetlik is.

Emfuleni voer ook aan die beslagleggingsbevel is nie behoorlik aan sy amptenare beteken nie en dit is boonop gedoen ten tyde van die Covid-19-inperking.

Dié saak word op 21 Maart volgende jaar aangehoor.

Barnardt het in sy uitspraak gesê die tussentydse bevel is geldig totdat die saak tussen die partye in die hooggeregshof afgehandel is.

Beeld verneem amptenare is bevrees hulle gaan moontlik nie vandeesmaand salarisse ontvang nie.

Senzo Mbatha, BXC-SA se regsverteenwoordiger van Edward Nathan Sonnenbergs, het gister gesê hy is reeds besig om ’n appèldokument namens sy kliënt­ op te stel.

Shabalala het nie sy telefoon beantwoord toe Beeld sy kommentaar wou vra nie.

Meer oor:  Emfuleni  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.