Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Metro moet byna R1 m. opdok ná man deur slaggat ry
Só lyk die slaggat waardeur Thomas Lourens van der Merwe op 19 Maart 2014 in Boksburg gery het. Die foto is ter ondersteuning van Van der Merwe se saak by die hooggeregshof in Pretoria ingedien. Foto: Verskaf
Die slaggat waardeur Thomas Lourens van der Merwe in Maart 2014 gery het, is later deur die Ekurhuleni-metroraad herstel (links op die foto). Die foto toon ’n nuwe slaggat daarnaas.Foto: Verskaf
Die muur waarteen Thomas Lourens van der Merwe vasgery het. Die foto is vir Van der Merwe se saak by die hooggeregshof in Pretoria ingedien. Foto: Verskaf

’n Eens topfikse man wat ernstig beseer is toe hy deur ’n slaggat in ’n pad gery en teen ’n baksteenmuur gebots het, gaan bykans R1 miljoen aan skadevergoeding ontvang.

Thomas Lourens van der Merwe (58), ’n motorverkoopsman van Boksburg-Noord, het op 19 Maart 2014 deur ’n slaggat in Main Reefweg in Boksburg gery.

Die Ekurhuleni-metroraad, wat dié teerpad in stand moet hou, het nou ingestem om R951 313 in ’n skikking aan hom te betaal.

Greyling Erasmus van die regsfirma Gildenhuys Malatji in Pretoria, Van der Merwe se prokureur, sê sy kliënt is “heel tevrede” met dié betaling.

Die skikking spruit uit ’n eis wat Van der Merwe in die hooggeregshof in Pretoria teen die metroraad ingestel het.

’n Kardiotorakschirurg het in ’n verslag voor die hof gesê Van der Merwe, wat 1,78 m lank is, was baie fiks voor die ongeluk en het daagliks in die gimnasium geoefen. Hy het voor die ongeluk ou motors herstel en herbou, maar kan dit sedertdien nie meer doen nie.

Hy het ná die ongeluk sowat 31 kg in gewig aangesit, maar het drie maande ná die ongeluk ’n operasie ondergaan waarin sy maag verklein is.

Van der Merwe se linkerkantste borskaswand voel vir hom onstabiel. Hy het ná die ongeluk sowat 31 kg in gewig aangesit, maar het drie maande ná die ongeluk ’n operasie ondergaan waarin sy maag verklein is.

Die operasie het volgens die verslag wondere verrig en hy weeg nou 82 kg.

Van der Merwe was die betrokke dag op pad om ’n Volkswagen Polo Vivo na ’n kliënt te neem. By ’n verkeerslig was daar betogers en Van der Merwe het sowat 200 m van die kruising tussen Main Reefweg en Haggieweg ’n U-draai gemaak. Hy het toe die slaggat getref met sy linkervoorwiel, die motor het links van die pad afgery en ’n muur getref.

Van der Merwe het met die linkerkant van sy borskas teen die stuurwiel geval.

Luidens die mediese verslag kan hy nie meer oefening doen nie. Hy stap wel met sy honde, maar kan nie meer sy lyf buig of swaai nie. Hy hoor ’n harde “kliekgeluid” in sy linkerbors, selfs as hy normaal asemhaal. Hy kry hoofpyn, sy nek is styf weens die sweepslagbesering, sy linkerknie pyn soms en die gevoel in sy linkerhand is aangetas.

Van der Merwe het twee ribbes gebreek in die ongeluk. Die gehalte van sy lewe is dramaties ingekort, lui die verslag.

Van der Merwe het twee ribbes gebreek in die ongeluk. Die gehalte van sy lewe is dramaties ingekort.

’n Ingenieur het in ’n verslag gesê die slaggat was 50 cm lank en 80 cm wyd. Dit was na raming meer as 5 cm diep, wat as gevaarlik beskou word – veral as die skerp rante daarvan in ag geneem word.

Op Google Streetview kon gesien word die slaggat was teen Januarie 2015 herstel.

Die ingenieur het gesê dit sou nie ’n “las” wees vir die metroraad om die slaggat reg te maak toe dit ontstaan het nie.

Luidens Van der Merwe se eisbesonderhede is R54 279 se skade aan die motor aangerig.

Volgens Erasmus is die vergoeding wat Van der Merwe ontvang, vir sy mediese uitgawes (ook vir die toekoms), pyn en lyding en verlies aan inkomste.

Meer oor:  Boksburg  |  Metro  |  Opdok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.