Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Polisie takel ‘wit’ prof en gesiene Duitse besoekers

Terwyl ’n kleuterskooljuffrou nog nagmerries kry oor ’n aanranding twee maande gelede in Centurion deur vermoedelik Tshwane-metropolisielede, het dieselfde lot ’n afgetrede Unisa-dosent Dinsdagaand getref.

’n Duits-gebore professor in die regte, André Thomashausen, by sy Pajero op die plek in Irene, Centurion, waar Tshwane-metropolisielede hom na bewering aangerand, beledig en wederregtelik in hegtenis geneem het. Foto: Deon Raath

Aanklagte van aanranding, crimen injuria en intimidasie teen prof. André Thomashausen (68) is Woensdag in die landdroshof in Pretoria teruggetrek.

Hy vertel ná ’n aand uit saam met twee Duitse besoekers, Alexandra von Dehn-Buchwaldt en Arist von Dehn, het sy vrou, Sonia, hul Pajero bestuur. Hulle was reeds naby hul huis in Irene. Rapport verneem Von Dehn-Buchwaldt is ’n persoonlike vriendin van die Duitse kanselier, dr. Angela Merkel, en Von Dehn is ’n afgetrede lid van Mercedes-Benz se direksie in Duitsland.

“ ’n Ou geroeste bakkie met die woorde ‘Tshwane Metro’ daarop gedruk, het skielik aan ons linkerkant aangejaag gekom. Langs ons het hul blou lig aangegaan en die bestuurder het ons met aggressiewe handbewegings beveel om af te trek,” het Thomashausen vertel. Hy sê sy vrou het dadelik gehoor gegee. Thomashausen het sy ruit oopgemaak en gevra wat die probleem is.

“So, hoe het jy daarvan gehou?”

“Die bestuurder het geskree ek moet uit my kar klim. Ek het hom gevra om homself te identifiseer. Hy wou toe weet of ek dink hy lyk soos ’n misdadiger. Ek sê toe ‘ek weet nie, miskien is jy’ en hy het heeltemal sy humeur verloor.” Thomashausen sê hy vermoed die klag van crimen injuria was die gevolg van sy grappie.

“Die klag van aanranding het gevolg toe dieselfde metrolid later my selfoon uit my hand probeer gryp het toe ek die videofunksie probeer aanskakel het. Ek het sy arm toe gegryp. Die klag van intimidasie het hy ingedien omdat ek vir hom gesê het hierdie voorval gaan hom sy werk kos.”

Hy sê ’n beampte aan sy kant van die kar het ingestem dat hulle na die Lyttelton-polisiestasie ry. “My vrou het dit nie gehoor nie, want sy was aan haar kant besig om toestemming te kry om by die ingang na die Irene Security Village in te draai.” Toe trek sy weg. “Die metro-voertuig het met skreeuende bande weggetrek en voor ons ingesny. Sy moes ’n noodstop doen om nie in hulle vas te ry nie.”

Die metropolisielid wat Thomashausen na bewering aangerand het.

Die drie metropolisielede het uitgespring en op die Pajero afgestorm. “Ek het my deur betyds gesluit, maar een van hulle het my vrou s’n oopgeruk en haar toe aan haar arm uit haar sitplek geruk. Sy het geskreeu van vrees en pyn. Ek het vir die beampte aan my kant, toe hy my aan my arm deur die halfoop venster probeer trek het, gesê hy kan nie my selfoon met geweld vat nie en ook nie my kar deursoek nie. Toe sê hy: ‘Ek sal jou leer wat ek kan doen, jou wit rassis.’ En dis toe wat ek vir hom sê hy gaan sy werk hieroor verloor.” Die konstabel het hom met geweld uit die kar gesleep en gearresteer.

“Hy het in ’n stadium sy regterhand op sy pistool gehad. Toe vra ek hom: ‘Hoekom trek jy nie jou pistool en skiet my nie?’ Ek dink dit het die realiteit ’n bietjie teruggebring.”

Hy sê die konstabel (wie se naam hy later uitgevind het glo F.N. Phalane is) en ’n kollega het hom in die bakkie gelaai. “Net voordat hulle die deur toegeslaan het, het Phalane vir my gesê: ‘Wanneer ons by Sunnyside kom, gaan ons jou ’n les leer wat jy nooit sal vergeet nie, jou wit k*k.’

Kymie du Toit kry steeds nagmerries.

“Hulle het baie vinnig gery met hul blou ligte aan,” sê Thomashausen.

Hy het teen die kant van die voertuig vasgeskop om te keer dat hy rondgeslinger word. “Uiteindelik was dit nie genoeg nie en ek het my neus teen ’n metaalrand gestamp wat ’n bloeiende sny veroorsaak het.”

Ná ’n onderlinge stryery het die beamptes na die Lyttelton-polisiestasie gery. “By ons aankoms het konst. Phalane gevra, ‘So, jou senior burger, hoe het jy daarvan gehou?’ ”

Ná rusies tussen polisie- en metropolisiebeamptes, asook die ingryping van twee senior offisiere, kon Thomashausen borgtog van R500 betaal en om 05:30 huis toe gaan.

“Donderdag was ek by ’n geleentheid vir pres. Angela Merkel wat sy nie kon bywoon nie, maar die top- 180 Duitse sakemanne in Suid-Afrika was daar. Een van die mans sê toe ek moes soos die ander geleer het 'n mens ry oral met R5 000 kontant by jou.”

Isaac Mahamba, Tshwane-metropolisie-woordvoerder, het Vrydag telefonies versoek dat Rapport die vrae oor die status van die ondersoek vir hom e-pos. Daarna het hy nie op oproepe, e-posse of boodskappe reageer nie.

Dit was ook sy reaksie toe Rapport hom vra oor die ondersoek na die beweerde aanranding van Kymie du Toit (28). Metropolisiebeamptes het haar een aand in Desember van die pad probeer druk terwyl sy na ’n veilige plek probeer ry het. By ’n vulstasie het hulle haar uit haar motor getrek. “Die een vrou het my kop, linkerwang eerste, ’n paar keer teen die grond gestamp terwyl hulle my geboei het.” Sy is eers die volgende oggend om 04:00 by die Sunnyside-polisiestasie vrygelaat. Nou beoog Du Toit om ’n skadevergoedingseis van minstens R750 000 teen die TMPD in te stel.

Haar regspan vergader Dinsdag met AfriForum se privaatvervolgingseenheid in ’n poging om te verseker die beamptes word strafregtelik vervolg. Du Toit sê sy is bang om selfs bedags te ry, en ook snags los die herinneringe haar nie.

“Ek het gisteraand weer gedroom iemand probeer my van die pad afdruk. Op die rand van die pad is ’n afgrond en daar skrik ek wakker.”

Meer oor:  André Thomashausen  |  Kymie Du Toit  |  Centurion  |  Metropolisie  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.