Ricardo Mettler, voormalige lyfwag van Ace Magashule, sal nou tot 10 Desember moet wag op die uitspraak in die hooggeregshof in Bloemfontein waar hy aangekla word dat hy ’n Pierneef-skildery uit die premierskantoor in die O.R. Tambo-gebou in Bloemfontein gesteel het.

Ricardo Mettler Woensdag in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Mike van Rooyen
Regter Soma Naidoo het Donderdag in die hof gesê sy benodig nog tyd vir die groot hoeveelheid getuienis wat sy vir die uitspraak moet oorweeg.
14 getuies het vir die staat getuig. Mettler het geen getuies geroep om te getuig nie en het ook nie self getuig nie.
Mettler ontken ook skuld op aanklagte van geldwassery en bedrog.
Een van die getuies wat vir die staat getuig het, is Magashule, destydse premier van die Vrystaat en nou sekretaris-generaal van die ANC.
Die staat beweer dit was terwyl Magashule die premierskantoor aan die einde van Maart 2018 ontruim het dat Mettler, wat daarmee gehelp het, die skildery van miljoene rand gesteel het.
Adv. Antoinette Ferreira kla aan. Adv. Jacques Potgieter tree in opdrag van Chris Boucher van Jacobs Boucher-prokureurs vir Mettler op.