Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Meyer-tragedie: 'Wanneer jy hier lees, is 4 lewens verwoes'

“Teen die tyd wat jy die brief lees, is vier mense se lewens verwoes,” het Teresa Meyer (48) voor die gesinsmoord waarin sy, haar man en twee kinders gesterf het, in ’n brief aan haar prokureur, Herman Kleynhans van Bloemfontein, geskryf.

“Ek is jammer, maar ek en Luhan kan nie meer aangaan nie. Ons is finansieel so geruïneer dat ons nie meer lig in die donker tonnel gesien het nie,” sê sy in ’n getikte brief wat nie onderteken is nie.

Agter is Dewald Coutts, Teresa en haar man, Luhan Meyer en Rian Coutts, Teresa se ander seun. Voor is Lurese en Luhann.Foto: Facebook

Uit dié brief wil dit voorkom asof die opspraakwekkende gebeure op die vakansieplaas in die Cederberge waar die lyke van die egpaar en hul twee kinders, Lurese (12) en Luhann (10) verlede week gevind is, voorafgegaan is deur ’n moontlike selfmoordpakt van haar en haar man.

Kleynhans het vir Teresa en Luhan in die streekhof in Bloemfontein opgetree waar hulle saam met drie mede-beskuldiges tereggestaan het. Hulle is daarvan aangekla dat hulle glo bykans R41 miljoen se bedrog met die finansiering van vragmotors gepleeg het terwyl die egpaar in Jacobsdal in die Vrystaat gewoon het. Teresa is boonop aangekla van diefstal van R4,9 miljoen van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Teresa sê in die brief, wat Netwerk24 onder oë gehad het, dat sy vir die afgelope nege jaar van hul verhoor “gestoei en geroei” het om kop bo water te hou.

Die regskoste van haar vorige regsverteenwoordigers het hulle geldelik geruïneer, het sy geskryf.

Kleynhans, van Bock & Van Es-prokureurs, het in November verlede jaar in opdrag van die Regshulpraad vir die Meyers begin optree nadat die egpaar verskeie ander regsverteenwoordigers se mandaat beëindig het. Hy word deur Regshulp SA betaal.

Sy sê sy wens sy het Kleynhans lankal ontmoet. Vroeër was sy desperaat, bang en verbouereerd en het sy na enige grashalms gegryp wat haar regsverteenwoordiging betref.

Sy het vas geglo dat sy die beste verdedigingspan moes kry en daardeur het sy haarself en haar gesin “in bankrotskap gedruk”, het sy geskryf.

Kleynhans sê daar was in geen stadium in enige konsultasie of gesprek met die Meyers enige aanduiding van neigings tot selfmoord of gesinsmoord nie.

“Ek was totaal en al geskok toe haar seun my bel en sê hy het my nommer met ’n brief vir my tussen sy ma se goed gekry. Sy het aan hom gesê hy moet my bel. Hulle is dood.”

Kleynhans sê hulle was ongelooflik lief vir hul kinders. “As ons uit die hof uit loop, dan bel albei die kinders. Dit was vir my treffend.”

Dit is bitter min dat beskuldigdes dit doen. Gewoonlik as die hof verdaag, praat beskuldigdes met hul prokureurs en stap weg, maar die Meyers het altyd eerste hul kinders gebel, sê Kleynhans.

Hy sê Teresa was baie seker van haarself. In konsultasie het sy feite oor die verhoor uit haar kop onthou.

“Ek het nooit enigsins ’n gevoel van bejammering by hulle waargeneem nie.”

* Die staat se dossier teen die vyf beskuldigdes is sowat 10 000 bladsye lank en ’n verdere 3 187 getikte bladsye van die oorkonde van die verhoor is aan Kleynhans oorhandig toe hy betrokke geraak het. Dit het Kleynhans vier maande gevat om alles te lees, sê hy.

Die staat beweer Teresa, ’n onafhanklike bemarker, het 37 voertuie gefinansier vir meer as wat dit werd is en sodoende Absa uit miljoene rande bedrieg.

Sy was glo die baasbrein van die beweerde bedrogspul.

* Wanneer die verhoor in September hervat word, behoort doodsertifikate ingedien te word, waarna die aanklagte teen die Meyers laat vaar sal word.

cederberge
Grafika: Cederberge

Meer oor:  Gesinsmoord  |  Meyer-Gesinsmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.