Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mihalik-sluipmoord: 'Vat aan verdagtes en jy is dood'

Verskeie regslui in die Wes-Kaap het Woensdag gesê dat hulle nie met ’n tang sal raak aan die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om adv. Pete Mihalik (50), ’n Kaapse regsgeleerde, te vermoor nie.

Twee vermeende huurmoordenaars het Mihalik verlede Dinsdag kort ná 07:30 doodgeskiet toe hy sy kinders by hul skool, Reddam House Atlantic Seaboard, in Groenpunt afgelaai het.

Die misdaadtoneel voor Reddam House Atlantic Seaboard, in Groenpunt.

Een van die regsverteenwoordigers met wie Netwerk24 gepraat het, sê om die mans te verteenwoordig sal so goed wees om jou eie doodsertifikaat te onderteken.

“Luister, die Kaapse onderwêreld hou die vordering van die saak fyn dop. Ons almal weet wie met Pete beef gehad het, maar die mense wat hom goedgesind was, gaan dophou om te sien wat gebeur.”

Die regsverteenwoordiger het gevra dat sy naam nie genoem word nie.

Mihalik is twee keer in sy kop geskiet. Hy is agter die stuur van sy motor op die toneel dood. Sy agtjarige seun wat voor in die voorste sitplek gesit het, is gewond.

Twee verdagtes, Sizwe Biyela, wat na bewering die sneller getrek het, en Nathi Khumal is op dieselfde dag aangekeer.

Die man wat hulle na bewering gewerf het, ’n 35-jarige taxibaas van Khayelitsha, het hom Woensdag, vergesel van prokureurs van die firma VBK in Johannesburg, aan die polisie oorgegee.

Mihalik se motor.

Die man verskyn Donderdag saam met Biyela en Khumalo in die landdroshof in Kaapstad op aanklagte van moord, poging tot moord, besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Die mans sal na verwagting onder streng polisiebewaking in die hof verskyn.

Adv. Helene Booysen, staatsaanklaer van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging, het met Biyela en Khumalo se verskyning verlede week gesê dat nog aanklagte teen hulle bygevoeg kan word.

Pete Mihalik se lyk word verwyder.

Bronne sê aanklagte van sameswering om moord te pleeg sal waarskynlik by die klagstaat gevoeg word.

Dit blyk egter asof die taxibaas vir sy lewe vrees. Hy het in die ure voor hy hom oorgegee het, glo geëis dat sy veiligheid verseker moet word.

Die man is glo vreesbevange dat die man wat die opdrag vir die sluipmoord gegee het, hom ook kan laat doodmaak. Die man wat die opdrag gegee het is glo ’n bekende Kaapse sakeman met bande met die onderwêreld.

Mihalik en sy vrou, Karin, wat drie jaar gelede haar eie lewe geneem het.

Die taxibaas, wat ook tereg staan vir ’n saak van huisbraak en ’n ander saak van besit van ’n gesteelde voertuig, weet glo wie die man is wat die opdrag gegee het.

In ’n klankgreep wat Woensdag vir Netwerk24 gespeel is, identifiseer ’n ander onbekende man, glo ook ’n taxibaas van Khayelitsha, die sakeman en sy vennoot.

Volgens die man het die sakeman die opdrag gegee dat Mihalik vermoor moet word, maar is die vennoot die man wat in direkte kontak met die taxibaas was.

Die vennoot het glo bande met die uitsmytersbedryf. Die taxibaas wat by die moord betrek word en die sakeman is glo bymekaar uitgebring deur die eienaar van ’n bekende kuierplek in Guguletu.

Die kroegeienaar is glo in die tronk weens gewapende roof.

Meer oor:  Kaapstad  |  Mihalik-Sluipmoord  |  Pete Mihalik  |  Kaapse Ononderwêreld  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.