Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Miljardêr kry borgtog ná hy glo vriend skiet

’n Britse miljardêr is Donderdag ná maande in “aanhouding” in hospitale en ’n hotel in Namibië op borgtog vrygelaat nadat hy glo per ongeluk ’n man doodgeskiet het in ’n rusie oor seksgunsies op sy plaas naby die Etosha Nasionale Park.

Lianie van Wyk, oor wie die rusie glo gegaan het, saam met haar man, Gerhardus.

Die skatryk Harvey Boulter (51) se moeilikheid het begin by ’n middagete-spitbraai onder ’n kareeboom op sy plaas, Kaross, in Februarie vanjaar saam met Gerhard en Alta van Wyk, wat 12 jaar vir hom gewerk het.

Hul seun Gerhardus en sy vrou van ’n paar maande, Liani, was ook daar.

Gerhardus en Liani wou ’n huis op Boulter se plaas van 26,7 ha bou. Boulter het na bewering gesuggereer in ruil vir dié guns wil hy elke dag met Liani seks hê, is tydens die borgtogaansoek beweer.

Die jong Van Wyk was hoogs ontsteld en sy pa het tussenbeide getree om die gemoedere te kalmeer.

Alta het vir die polisie gesê Boulter het in ’n stadium ’n ingevoerde Sig Sauer P320-pistool, wat hy dié dag aan sy lyf gedra het, teen haar man se kop gehou. Dié het Boulter se hand weggedruk en toe klap die skoot.

Ek wil nie as ’n “miljardêr” beskryf word nie.

Die koeël is deur Boulter se hand en het Gerhard in die maag getref. Hy is op pad na die hospitaal dood.

Boulter se weergawe is dat die skoot net onverwags afgegaan het. Hy sê Van Wyk en sy seun het met hom rusie gemaak, maar hy weet nie hoe die rusie begin het nie.

Die staat voer aan dat die pistool gewoonlik in Boulter en Gerhard se wapenwinkel uitgestal is en dat Boulter ingevolge sy lisensievoorwaardes nie daarmee mag rondloop nie.

Boulter is in hegtenis geneem, maar hy het nog nie die binnekant van ’n polisiesel of ’n tronk gesien nie. Eers is hy in die Outjo-hospitaal behandel vir sy beseerde hand. Toe het hy glo Covid-19 opgedoen en hy is in die Safari Court-hotel in Windhoek in kwarantyn gehou.

Gerhard van Wyk (54) is dood nadat hy in die maag geskiet is.
Harvey Boulter (51) Foto: Linkedin

Daarna het hy  in die Paramount Healthcare Centre en in die Auas Hills-aftreeoord gebly. Dít ondanks ’n vroeëre hofbevel dat hy in die Kamanjab-polisieselle aangehou word.

Hy boer met duur wildspesies soos swartwitpense en renosters en het in die hof aangevoer hy het al meer as N$150 miljoen in Namibië belê.

Boulter is in 2019 van sy Suid-Afrikaanse vrou, Leonorah, geskei. Sy woon saam met hul drie kinders in Amerika.

Hy besit verskeie sakeondernemings in Brittanje, Amerika, Brasilië en die Verenigde Arabiese Emirate.

Hy bestuur sy sakebelange van sy Namibiese plaas.

Hy besit ook ’n 80 m lange seiljag, ’n private straler en supermotors.

In sy borgtogaansoek is Boulter bekend as die man wat ’n dekade gelede die fluitjie geblaas het oor ’n Westminster- politieke skandaal wat tot die bedanking van die Tory-minister van verdediging, dr. Liam Fox, gelei het.

Die speurder in die saak het tydens die borgtogaansoek toegegee dat die skoot wat Gerhard se dood veroorsaak het, moontlik per ongeluk afgevuur is.

Boulter se borgtogaansoek is op 11 Mei in die landdroshof in Outjo van die hand gewys.

Hy het teen dié beslissing geappelleer en Donderdag het die hooggeregshof in Windhoek borgtog van R500 000 aan hom toegestaan.

Hy mag nie die land verlaat nie en moet hom elke Woensdag by die polisie aanmeld.

Meer oor:  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.