Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Miljoenêr-sakeman gevonnis

Die miljoenêrsakeman Gary van der Merwe is Vrydag tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis.

Regter André le Grange het Van der Merwe in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis nadat hy hom in Junie op een aanklag van bedrog skuldig bevind het.

Die strafsaak is al langer as tien jaar aan die gang. Van der Merwe en Paul Killian, sy medebeskuldigde, het in Januarie 2005 vir die eerste keer in die landdroshof verskyn.

Die saak is in Junie 2008 na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas.

Van der Merwe en Killian het in Oktober 2012 skuld ontken op al 11 aanklagte teen hulle, maar die verhoor het eers ’n jaar later begin.

Die aanklagte spruit uit ’n ondersoek wat die destydse Skerpioene na die werking van World Online Ltd. (WOL), Wealth International Network en Wellness International Network (WIN) gedoen het.

Die ondersoek het in 2003 begin toe Frans Maritz, ’n voormalige werknemer van WIN wat deur Killian afgedank is omdat Maritz na bewering van die maatskappy se geld vir eie gebruik geneem het, die Skerpioene genader het.

Aanvanklik was daar 11 aanklagte teen Van der Merwe en Killian, maar vervolging is ingestel ten opsigte van net die eerste drie in verband met beleggingsbedrog.

Le Grange het Van der Merwe net op aanklag drie skuldig bevind wat die verkoop van WIN-aandele aan die publiek behels.

Luidens WIN se brosjures het dié onderneming verskeie bates gehad, waaronder vliegtuie, skepe en duikbote. Die onderneming sê hy het geld gegenereer deur dié bates te gebruik.

WIN se finansiële state is in dieselfde brosjure gepubliseer. Daarin staan dat WIN ’n wins van R59 miljoen toon in die boekjaar wat in Februarie 2002 geëindig het. Dié inligting is vals omdat van die bates nie bestaan het nie en WIN eintlik ’n verlies van R12 miljoen gely het.

WIN is in September 2003 voorlopig gelikwideer en kort daarna finaal. Honderde beleggers het miljoene rande verloor.

In Le Grange se uitspraak het hy gesê dit was uit die getuienis duidelik dat WIN eintlik R17,5 miljoen in 2001 en R21,5 miljoen in 2002 verloor het.

Killian is op al die aanklagte onskuldig bevind.

Le Grange het Vrydag gesê dat die vonnis gebalanseerd teenoor die misdryf moet wees. Hy het gesê die misdryf is langer as 15 jaar gelede gepleeg en dat daar geen bewys van die geldelike verlies was nie, maar die wanvoorstelling is steeds baie ernstig.

Hy het Van der Merwe sewe jaar tronkstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Hy is verder vir drie jaar in huisarres geplaas verbonde aan verskeie voorwaardes wat gemeenskapsdiens en rehabilitasieprogramme insluit.

Van der Merwe mag ook nie die Wes-Kaap verlaat sonder die owerhede se toestemming nie.

Laastens het Le Grange twee van die drie staatsgetuies van vervolging kwytgeskeld.

Die derde getuie, Antonie van der Merwe, is nie van vervolging kwytgeskel nie en kan vervolg word. Die direkteur van openbare vervolging moet nog besluit of hulle hom gaan vervolg.

Meer oor:  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.